Vertrou op God se reddende en blywende krag

2021-03-12
1 Petrus 1:5 AFR83

As ons redding verseker is wanneer ons ons vertroue in Christus plaas, kan sommige mense nie dalk misbruik van hierdie versekering maak nie? Ja, hulle mag dalk, vir ‘n tyd lank. Soos genade egter dieper gaan en soos God se liefde en goedheid by hulle insink, begin hulle verander.

Genade bevorder gehoorsaamheid. ‘Die liefdevolle goedheid van God wat verlossing bring, het inderdaad vir almal sigbaar geword. Dit voed ons op om die goddelose leefstyl en die wêreldse begeertes af te lê en gebalanseerd, met opregtheid en toewyding aan God, in die huidige tyd te leef’ (Titus 2:11-12 NLV). God se genade doen meer as om jou in moeilikheid te troos; dit oortuig jou in jou ongehoorsaamheid.

As jy jouself ooit vang dink: ‘Ek kan doen wat ek wil, want God sal my vergewe,’ beteken dit dat genade nie in jou posgevat het nie. Selfsug, dalk. Arrogansie, vir seker. Maar genade? Nee. Genade skep ‘n voorneme om goed te doen, nie toestemming om sleg te doen nie.

Kyk na Christus vir jou begin en einde. Hy is die Alfa en die Omega. Hy sal jou en jou geliefdes vashou. Het jy ‘n verlore seun of dogter? Smag jy vir jou eggenoot om terug te keer na God toe? Het jy ‘n vriend wie se geloof koud geword het? God wil hulle nog meer as jy terughê. Hou aan bid en moenie opgee nie. Ons weet nie altyd of iemand God se genade vertrou het nie. ‘n Persoon mag dalk voorgegee het dat hulle glo, maar dit nie regtig bedoel het nie. Dis nie vir ons om te weet nie. Ons weet egter die volgende: waar daar opregte bekering is, hou genade nooit op werk nie. Vertrou dus vandag op God se reddende en blywende krag.

Sielskos: Job 1-4; Matt 22:23-33; Ps 24; Spr 7:24-25