Vertraagde intellektuele ontwikkeling (3)
2020-06-06Spreuke 9:9 NLV
Kom ons kyk na vertraagde intellektuele ontwikkeling. Soms gebruik ons verse soos: ‘Daar is dinge wat dom lyk vir die mense van die wêreld, maar God het daardie dinge gekies om die slim mense te laat verstaan dat hulle niks weet nie…’ (1 Korintiërs 1:27 ABA), as verskoning om nie ons gedagtes te ontwikkel en intellektueel te groei nie. God het gesê: ‘My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis…’ (Hosea 4:6 AFR53). Jou sin van vervulling gaan met intellektuele groei gepaard – iets wat jy nie op ‘n ander manier kan kry nie. Wanneer jy weet dat jy in kennis en begrip groei, word jy minder ontvanklik vir kritiek, verwaarlosing en afjakke. Jou sin van waarde hang nie meer van ander mense se goedkeuring af nie, omdat jy jouself aan jou persoonlike groei meet. Die Bybel sê: “‘n Mens met insig kry steeds meer kennis. Wyse mense hou altyd hulle ore oop vir nog meer kennis” (Spreuke 18:15 NLV). ‘Die oor wat wel hoor, die oog wat reg sien – die Here het al twee gemaak’ (Spreuke 20:12 NLV). Let wel, jy leer deur te luister en te observeer! Ons praat nou nie hier van ure voor die televisie spandeeer wat jou brein dof maak en jou die kuns van gesprekvoering afleer nie. Die Bybel sê: ‘Yster slyp yster en so vorm vriende mekaar’ (Spreuke 27:17 NLV). Om te groei en skerp te word, het jy vriende in jou lewe nodig wat jou sal opskerp. Daar is drie sleutelaktiwiteite wat jou toekoms bepaal: a) die tyd wat jy met God bestee; b) die verhoudings wat jy aanknoop; en c) die boeke wat jy lees. Die boek waaraan jy die meeste tyd moet bestee, is die Bybel. Nog ‘n gedagte: Enige tyd wanneer jy lees en ‘n goeie gedagte kry of ‘n ‘aha!’ oomblik ervaar, skryf dit neer – anders sal jy dit verloor.
Sielskos: Op 1-4; Mark 14:43-52; Ps 1; Spr 13:1