Verstaan Satan se rol (4)

2017-09-24
1 Korintiërs 5:5 NLV

Satan se aanval kan ‘n wekroep wees. Weet jy dat wanneer jy weier om jou sonde te erken en berou daaroor te hê, word die muur van beskerming rondom jou gebreek en is Satan vry om in te kom en jou aan te val? Paulus skryf aan die kerk in Korinte: ‘Ek kon my ore byna nie glo om van die seksuele vergrype onder julle te hoor nie – daarby van so ‘n ernstige aard dat dit selfs nie onder die heidene voorkom nie. Ek moes verneem dat daar iemand in julle gemeente is wat met sy stiefma in sonde saamleef. En dan is julle nog so trots op julleself! Pleks dat julle treur en toesien dat hierdie man wat sulke dinge aanvang, uit jul midde verwyder word!’ (verse 1-2 NLV). Dan beveel Paulus die leiers van die kerk, ‘Dan moet julle daardie man aan die Satan oorgee sodat sy sondige aard vernietig word, maar hyself gered kan word op die oordeelsdag.’ Later het die man berou oor sy sonde gehad en Paulus het gesê dat hy weer in die gemeente opgeneem moes word. Wat Paulus dus eintlik gesê het, was: ‘Laat hy tot wanhoop gedryf word sodat hy dalk terug in God se arms gedryf word.’ Weer skryf Paulus: ‘…sommige mense het opsetlik hulle gewete onderdruk, en as gevolg daarvan het hulle geloof skipbreuk gely. Himeneus en Aleksander is twee voorbeelde hiervan. Ek het hulle aan Satan oorgegee sodat hulle sal leer om God nie te belaster nie’ (1 Timoteus 1:19-20 NLV). Geniet God dit om ons te sien ly? Nie meer as wat ‘n ouer dit geniet om hulle kind te dissiplineer nie. Sommige van ons skrik wakker van ‘n skouer wat aangeraak word, ander moet oor die kop geslaan word. Wanneer iemand oor die kop geslaan moet word, kry Satan die oproep.

Sielskos: 1 Kon 3:4-28; Jak 1:2-8