Verstaan Satan se rol (1)

2017-09-21
1 Johannes 4:4 NLV

Satan is ‘n gevalle engel wat nie tevrede daarmee was om God te prys nie, hy wou op sy troon sit. Engele, soos mense, is gemaak om God te dien en te prys. Hulle is ‘n vrye wil gegee; andersins; hoe sou hulle God kon eer en prys? Satan het egter gesê, ‘Ek klim op tot die hoogste hemele. Soos die Allerhoogste sal ek word’ (Jesaja 14:14 NLV). Hy is toe uit die hemel geskop: ‘Maar in plaas daarvan sal jy in die doderyk beland, in sy diepste dele’ (Jesaja 14:15 NLV). Satan het nie verander nie. Hy is nog steeds so selfgesentreerd en so beperk soos wat hy toe was. Selfs toe sy hart goed was, was hy aan God minderwaardig. God weet alles; engele weet net dit wat Hy openbaar. God is orals; engele kan net op een plek wees. God is almagtig; engele is net so magtig soos wat God hulle toelaat om te wees. Dus is Satan steeds onderdanig aan God. Elke keer wat hy sy saak probeer bevoordeel, bevoordeel hy God se saak. Pastoor Erwin Lutzer skryf in sy boek, The Serpent of Paradise: ‘Satan het verskillende rolle om te vertolk, wat van God se planne en doelwitte afhang. Ons moet in gedagte hou dat hy verskriklike magte het, maar wanneer ons weet dat daardie magte net onder God se diskresie uitgevoer kan word, kan ons hoop hê.’ Satan wil nie hê dat jy dit moet weet nie; hy sal jou eerder mislei om te dink dat hy ‘n onafhanklike krag met onbeperkte mag is. Hy is nie. Hy sal verkies dat jy nooit die volgende woorde lees nie: ‘…julle het hulle reeds oorwin omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon.’

Sielskos: Num 29:1-6; Matt 24; Op 11:15-19; 1 Kor 15:50-58