Verstaan jou begeertes (4)

2019-07-09
Markus 8:34 NLV

God is ‘n God wat begeertes skep en dit vervul. Voëls wil vlieg omdat God hulle geskep het om dit te doen. Dolfyne wil swem omdat God hulle met die instink om te swem geskep het. God plant nie verkeerde begeertes in ons nie. Toe Adam Eva vir die eerste keer gesien het, het hy ‘n sterk begeerte na haar ontdek. Waar het daardie begeerte vandaan gekom? Van God af. Dit is waarlik vir God lekker om jou begeertes te vervul. Sommige begeertes word egter deur sonde verwring en moet skoongemaak, gesuiwer en heropgelei word. Dis waarna Jesus verwys het toe Hy gesê het: ‘…As enigeen van julle my volgeling wil wees, moet julle julle eie, selfsugtige ambisie prysgee, julle kruis opneem en agter My aan kom’. Ons moet nee sê vir die begeertes wat ons daarvan weerhou om in God se Gees te lewe. Ons moet altyd gereed wees om ‘n mindere begeerte op te offer om sodoende ‘n beter lewe te lei. Aan die ander kant maak niks ‘n mens so weerloos teen versoeking soos ‘n vreugdelose lewe nie. As God al jou begeertes sou verwyder, sou jy nie menslik wees nie. ‘n Stuk sement hoef nie bekommerd te wees oor die onkruid wat daarop groei nie, maar dit sal ook nooit ‘n tuin wees nie. God se plan is dat ons sal besef hoe goed Hy is, elke keer wat ons ‘n Godgegewe begeerte ervaar. Ons leer hoe Hy ons aanmekaar gesit het en wat Hy wil hê ons in die lewe moet doen; en gevolglik vind ons dat ons Hom net liewer en liewer kry. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Beproef en sien dat die Here goed is. Geseënd is die persoon wat op Hom vertrou!’ (Psalm 34:9 NLV).

Sielskos: Hand 3:11-5:42; Matt 8:10-17; Ps 109:16-31; Spr 15:23-26