Verstaan God se wil (2)

2017-08-27
Psalm 143:10 NLV

Soos jy terugkyk op jou lewe, sal die dinge wat jou die meeste vreugde gebring het, die wete wees dat jy die wil van God uitgevoer het. Om dit te laat gebeur, moet jy egter waarlik God se wil wil doen. Jesus het gesê, ‘As iemand gewillig is om God se wil te doen, sal hy weet of dié onderrig van God afkomstig is en of Ek uit my eie praat’ (Johannes 7:17 NLV). Let op: ‘as iemand gewillig is om God se wil te doen.’ Meer as om jou opvoeding klaar te maak, te trou, jou huis af te betaal of enigiets anders in jou lewe te doen, moet jy God se wil wil doen. Chuck Swindoll skryf: ‘Daar was tye wat ek gesê het dat ek God se wil wou doen, maar ek wou nie regtig nie. Ek het ook geleer dat selfsugtige teenstand, ernstige gevolge het.’ Paulus skryf: ‘…werk as slawe van Christus wat met volle oorgawe God se wil doen. Doen julle werk entoesiasties, asof julle dit vir die Here doen en nie vir mense nie. Julle weet mos dat die Here elke mens wat sy werk goed doen, sal beloon…’ (Efesiërs 6:6-8 NLV). Doen God se wil met volle oorgawe. Jou grootste begeerte moet wees om God te behaag, nie om mense te behaag, besittings bymekaar te maak, status te verkry of om veilig te wees nie. Die Psalmdigter het gebid, ‘Dis my begeerte om u wil te doen, my God, want u voorskrifte is in my hart’ (Psalm 40:8 NLV). Jou gebed moet wees: ‘In alles wat ek vandag doen, Here, is my begeerte om U te behaag en u wil te doen.’

Sielskos: Jos 1:7-8; 2 Tim 3:14-17; Ps 119:1-16