Vermy gewoontes wat jou kan verslaaf

2021-12-28
1 Korintiërs 6:12 ABA

Paulus het gesê: ‘Ek weet julle sê ‘n mens mag alles doen. Maar julle moet onthou: Alles is nie goed vir ‘n mens nie. Julle sê ‘n mens mag alles doen, maar ek sê jy mag nie iets so belangrik laat word dat dit oor jou regeer nie.’ As jy ernstig oor geestelike groei is, moet jy vir geleenthede uitkyk waar jy vir jouself in klein areas nee kan sê. Jy sal dan een dag wanneer dit regtig saak maak, dit ook kan sê.

Daniël het begin deur nee vir die koning se kos te sê en kon later weier om voor die koning se afgode te buig. Fokus op die ongedissiplineerde areas in jou lewe; die areas waarvoor jy aanhou verskoning maak, rasionaliseer en aanhou uitstel om dit te hanteer. Paulus het sy optrede as volg geoordeel: ‘Is dit voordelig? Het dit die potensiaal om my te beheer?’ (sien 1 Korintiërs 6:12).

Jy het die volste ‘reg’ om elke aand ‘n bak roomys op te eet. Dis toelaatbaar – maar dis nie ‘voordelig’ nie, veral nie as jy ‘n klein middellyf, die vermoë om ‘n marathon te hardloop, of selfs net om by jou kinders en kleinkinders te kan byhou, wil hê nie. Jy het die ‘reg’ om jou geld soos jy wil te spandeer, maar dan moet jy nie kla as skuld ‘n houvas op jou kry nie. Jy het die ‘reg’ om na enigiets op televisie of die internet te kyk, maar blootstelling aan verkeerde invloede sal onvermydelik jou karakter verswak, jou selfrespek steel en jou verslaaf maak.

Jou karakter is die somtotaal van die keuses wat jy elke dag maak. Wanneer dit daarby kom om slegte gewoontes met goeie gewoontes te vervang, is die enigste persoon wat dit kan doen, jyself!

Sielskos: 1 Kor 10-11; Matt 2:9-15; Ps 139:1-12; Spr 31:25-27