Verhoudings (3)

2022-01-24
Efesiërs 5:7 NLV

Om iemand te laat gaan beteken nie dat jy nie meer vir hulle lief is nie; dit beteken net dat die verhouding nie reg is vir jou nie. Hoe moet jy dit hanteer?

1) ‘n Geleidelike skeiding is soms die beste oplossing. Daar is verhoudings wat jy vir jou eie beswil moet beëindig. Maar net omdat jy die koord moet sny, beteken nie dat dit uitgeruk moet word nie. Om ‘n verhouding te beëindig is stresvol, probeer dus om dit so genadiglik as moontlik te doen. As die koord wat jou bind konstante telefoonoproepe, eposse en besoeke is, is dit ‘n goeie plek om te begin.

2) Moenie aanhou teruggaan nie. Ons hou aan teruggaan en wonder of ons die regte besluit gemaak het. Maak die besluit een keer, maak dit die regte besluit en hou dan daarby. Dikwels sal mense probeer om jou terug te lok deur te insinueer dat jy die eerste keer verkeerd was. Dis hoekom jy enige twyfel eers uit die weg moet ruim voordat jy die besluit neem. As jy jouself in die patroon bevind waar jy na ou, ongesonde verhoudings toe terugkeer, mag jy dalk uit die verkeerde put drink. Jy mag dalk ‘n leegheid binne-in jou hart probeer vul wat slegs God kan vul.

Toe Jesus die vrou by die put ontmoet het, het sy reeds vyf mislukte huwelike agter die blad gehad en het saam met man nommer ses gewoon. Jesus het vir haar gesê: ‘…Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word. Wie egter die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal ‘n fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel’ (Johannes 4:13-14 NLV).

Sielskos: Gen 50; Hag 1-2; Luk 5:12-26; Ps 96; Spr 3:5-6