Verhoudings (2)

2022-01-23
Spreuke 13:20 NLV

Nie almal wat saam met jou begin loop het, is in staat om te gaan waarheen God jou wil neem nie. Soms het hulle nie die emosionele kapasiteit wat dit verg nie. Ander kere verskil hulle visie van joune. Hoe kan jy dus weet wanneer dit tyd is om ‘n verhouding te verlaat?

Vermy verhoudings wat jou uitgeput laat voel. Dit beteken dat jy duidelike grense aan die begin van jou verhoudings moet stel. Jy het nie tyd om jou lewe te lewe om misverstande, seergemaakte gevoelens en ego’s uit te sorteer nie. Hoe ver is jy gewillig om te gaan? Hoe baie wil jy daarin belê? Wanneer jy jou begroting oorskry, word jy bankrot. Om emosioneel en fisies bankrot te raak sodat iemand anders nodig kan voel, klink dalk edel, maar dit is nie. Mense wat emosioneel en fisies bankrot is, eindig met alles van senuwee ineenstortings tot buite-egtelike verhoudings op. Selfs wanneer hulle dit nie doen nie, bereik hulle nie hulle Godgegewe bestemming in die lewe nie, omdat hulle te veel gewig met hulle saamsleep.

Wanneer jy voel dat ‘n verhouding nie werk nie, stop en neem bestek daarvan. Kyk objektief in plaas van emosioneel na die situasie en ondersoek al die fasette daarvan. Soms moet sekere aspekte van ‘n verhouding getermineer word en ander areas gehandhaaf word. Dis moontlik om verhoudings te hê wat in een area werk, maar nie in ‘n ander nie. Dis moontlik om een area te verwyder en steeds baie oor te hê om te geniet. Ja, dit neem tyd en kommunikasie, maar dis dikwels die moeite werd. Daar mag dalk gemeenskaplike belange wees wat gehandhaaf moet word, terwyl ander getermineer moet word voordat alles verlore is.

Sielskos: Eseg 47:1-12; Op 21:22-22:5