Is jy in ‘n verhouding waar jy misbruik word?

2022-11-27
Lukas 23:34 NLV

Wat moet jy doen as jy in ‘n verhouding is waar jy misbruik word?

1) Bid vir hulle. Jesus het gesê: ‘…Doen goed aan dié wat julle haat. Seën dié wat julle vervloek. Bid vir hulle wat julle seermaak’ (Lukas 6:27-28 NLV). Daar word gesê dat 90 persent van diegene wat ander mishandel, self mishandel is. Dikwels reageer hulle as gevolg van wonde wat nie genees het nie en kwessies wat nie opgelos is nie. Terwyl dit glad nie ‘n verskoning vir hulle optrede is nie, gee dit jou insig oor hoe om vir hulle te bid. Satan hou daarvan om dinge soos alkohol, dwelms, woede, pornografie en ander vervalsings te gebruik om verhoudings te vernietig. Bid dus dat hulle die persoon sal word wat God in gedagte vir hulle het. ‘Hy sal roep, en Ek sal antwoord. In nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom red en in eer herstel’ (Psalm 91:15 NLV).

2) Kry hulp. Salomo het gesê: ‘En as iemand die een aanval, sal die twee weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie’ (Prediker 4:12 NLV). As jy ondersteuning van ‘n groep of ‘n bemiddelaar nodig het om in te gryp, neem aksie – nou.

3) Beëindig die verhouding indien nodig. Dis nie jou werk om die ander persoon te verander nie. Dis ook nie jou mislukking as hulle nie verander wanneer hulle met God se liefde en die waarheid gekonfronteer word nie. Hier is ‘n belofte waarop jy kan staan: “…’Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.’ Daarom kan ons moed skep en antwoord: ‘Die Here is my hulp. Daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan nietige mensies my aandoen?'” (Hebreërs 13:5-6 NLV).

Sielskos: 1 Kon 17:1-7; 1 Kon 18:41-46; Mark 4:35-41