Verhouding en gemeenskap

2017-08-16
1 Johannes 1:6 NLV

God is verantwoordelik vir jou verhouding met Hom. Die oomblik wat jy jou vertroue in Jesus Christus plaas, word jy aanvaar as lid van Sy familie. Jy is egter verantwoordelik vir jou gemeenskap met God. Die Bybel sê, ‘As ons dan sê dat ons deel het aan Hom, maar in geestelike duisternis leef, lieg ons.’ Neem ‘n oomblik en dink aan die laaste keer wat jy spanning tussen jou en een van jou familielede ervaar het. Julle was steeds deel van dieselfde familie, maar julle gesprekke het oppervlakkig geword en julle was gemakliker daarmee om tyd apart as tyd saam te spandeer. Wanneer iets tussen twee mense wat normaalweg naby aan mekaar is, gebeur, is gemeenskap die eerste ding wat in die slag bly. Dis dieselfde met ons reis saam met God. Skielik word ons gebede oppervlakkig: ‘Here, seën asseblief ons voedsel.’ Ons vermy dit ook om tyd saam met daardie Persoon te spandeer: ‘Ek het nie tyd vir Bybelstudie nie.’ Die belangrikste voorwaarde om in gemeenskap met Jesus te wees, is om Hom elke dag te volg en sy bevele te gehoorsaam. Toe Petrus en die dissipels besig was om vis te vang, het die Here vir hulle gesê om hulle nette aan die regterkant van die boot uit te gooi. Toe hulle Hom gehoorsaam, het hulle ‘n bootvrag visse gevang. Iets groters het egter daardie dag gebeur. Toe Jesus nader kom, het Johannes gesê, ‘…Dit is die Here!..’ (Johannes 21:7 NLV). Wat gevolg het was ‘n intieme maaltyd en ‘n soete tyd van gemeenskap met Jesus. As jy dus vandag met jou verhouding met Jesus sukkel, is die kans goed dat jy ongehoorsaam aan Hom was of nie meer in gemeenskap met Hom is nie. As dit die geval is, doen iets daaraan.

Sielskos: 2 Kron 1-4; Mark 5:21-30; Ps 119:81-88; Spr 21:17-19