Vergeet daarvan en beweeg aan

2021-02-21
Filippense 3:13-14 NLV

Ons almal het ‘n ‘verlede.’ Dis gevul met seer wat ander mense ons aangedoen het, foute wat ons in die moeilikheid laat beland het en dinge waaroor ons so skaam is dat ons dit nie waag om openlik daaroor te praat nie. Wat staan ons te doen?

Daar is net twee dinge wat jy met jou verlede kan doen: fokus daarop, of vergeet daarvan en beweeg aan. As jy vergifnis nodig het, vra God daarvoor, ontvang dit deur geloof, leer uit jou foute en probeer om volgende keer beter te doen. Paulus het geskryf: ‘…een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee omdat Christus Jesus dit vir my verdien het’ (verse 13-14 NLV).

Voor Paulus vir Christus ontmoet het, het hy Christene gevange geneem, tereggestel en kerke toegemaak. Wat erger is – hy is daarvoor betaal! Miskien laat dit jou bietjie beter oor jou verlede voel. Nou het Paulus egter net een doelwit gehad – om homself uit te strek na dit wat voorlê.

Wanneer jy deur sonde misluk, vererger jy jou mislukking deur daaroor te tob en in skuldgevoelens te verdrink. Hoekom? Omdat God vir jou van vergifnis voorsien het! Of jy dus twintig jaar terug of twintig minute terug gesondig het, daar is niks wat jy daaraan kan doen nie, behalwe om God om vergifnis te vra, dit te ontvang, dit agter jou te sit en aan te beweeg. Jy moet gister se foute laat gaan om vandag se seëninge te kan aangryp. Wanneer jy leer om dit te doen, sal jy die lewe geniet soos God dit bedoel het.

Sielskos: 1 Sam 3:1-11; Hand 9:1-9