Vereer vandag die Here
2021-07-22Psalm 34:4 AFR53
Let twee dinge oor die Onse Vader op. Dit begin met die woorde: ‘…Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word’ (Matteus 6:9 AFR53), en eindig met die woorde: ‘…Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen’ (vers 13 AFR53).
God wil hê dat jy jou gebede moet begin en eindig deur aan Hom te dink. Hoekom? Omdat dit beter is om op God, as op enigiemand of enigiets anders, te fokus! Wanneer jy ‘n voorwerp groot maak, vergroot jy dit sodat jy dit beter kan sien en verstaan. Wanneer ons die Here groot maak, doen ons dieselfde. Ons vergroot ons bewustheid van Hom, sodat ons Hom beter kan verstaan. Dit is wat gebeur wanneer ons Hom aanbid – ons neem ons gedagtes van onsself af en fokus hulle op God.
In The Message, parafraseer Eugene Peterson die finale woorde van die Onse Vader as volg: ‘You’re in charge! You can do anything you want! You’re ablaze in beauty! Yes. Yes. Yes’ (Matteus 6:13). Kan dit enigsins duideliker gestel word? God is in beheer!
Paulus sê: ‘Verder bid ek ook dat julle sal agterkom dat die krag van God wat in ons werk sterker as enigiets anders is. Ons het gesien hoe geweldig daardie krag regtig is toe God Jesus uit die dood laat opstaan en vir Hom die belangrikste plek in die hemel gegee het. Nou regeer Jesus natuurlik oor al wat mag of regeerder of koning is. Niemand, ek herhaal, niemand en niks sal ooit belangriker of sterker as Jesus kan wees nie; nie nou nie en ook nie in die toekoms nie’ (Efesiërs 1:19-21 DB).
Wanneer jy dus die Here vereer, sê jy: ‘U regeer nie net die heelal nie, U regeer my hart!’
Sielskos: Hand 22-23; Luk 9:1-17; Ps 65; Spr 16:8-9