Verandering kan by jou begin
2018-08-28Rigters 6:26 NLV
Daar is ‘n verhaal van ‘n familie wat ‘n professionele biograaf gehuur het om hulle familiegeskiedenis op te teken. Daar was egter net een probleem. Hulle was bekommerd oor oom George, die swartskaap van die familie wat in die elektriese stoel vir ‘n string moorde tereggestel is. ‘Geen probleem,’ het die biograaf gesê. ‘Ek sal eenvoudig sê dat oom George in die voorsitterstoel van toegepaste elektronika by ‘n belangrike regeringsinstelling was; dat hy aan sy posisie toegewyd was en dat sy dood as ‘n skok gekom het.’ Op ‘n ernstiger noot, wanneer dit by jou opvoeding en familieboom kom, kan jy soms nie veel beter doen as om daaruit te leer nie! Deur God se genade kan jy egter baie aan jou toekoms doen. Jou ouers mag dalk in geestelike blindheid voortgestruikel het, maar jy kan in die lig van God se Woord stap – en jou familie saam met jou neem. Gideon, ‘n held van die Ou Testament, het in ‘n familie van afgodsdienaars grootgeword. Dit was ‘n kulturele ding; almal het dit gedoen. God het egter planne vir Gideon gehad, dus het die engel van die Here hom een dag besoek en gesê, ‘…Breek jou pa se altaar vir Baäl af… Kom bou dan ‘n stewige altaar vir die Here jou God…’ (verse 25-26 NLV). Dit was nie ‘n maklike ding vir Gideon om te doen nie, want hy was van nature ‘n bang persoon. Toe hy in geloof opgetree het om God te gehoorsaam, wou die dorpsinwoners hom doodmaak. Omdat Gideon egter aan God gehoorsaam was, het hy op die ou einde sy hele familie verander. Die woord vir jou vandag is dus: Verandering in jou familie kan by jou begin. As dit nie by jou begin nie, by wie sal dit dan begin?
Sielskos: 2 Kro 29-31; Luk 17:20-37; Ps 119:137-144; Spr 22:11-13