Verander twee gesinne in een

2024-03-11
Genesis 33:5 NLV

Weens die egskeidingsyfer vandag, beide binne die kerk en daar buite, raak paartjies verlief en staar die uitdaging in die gesig om twee gesinne in een te verander. Hier is ‘n paar van daardie uitdagings: besoekregte, hofingryping en betrokkenheid van die voormalige skoonouers. Voeg daarby ‘n berg papierwerk en wetlike spesifikasies en dit is soos om ‘n internasionale vredesverdrag te beding.

Jy het gekies om met jou nuwe eggenoot te trou, maar jou kinders het nie daardie keuse gehad nie. Dit is dus nie genoeg om hulle onder een dak saam te bring en te sê: ‘Wees mooi met mekaar,’ nie. Hulle wêreld is op sy kop gekeer en jy moet hulle tyd gee om die situasie te verwerk en hulle plek in die nuwe omstandighede te vind. ‘Die liefde sal al ons probleme oorkom,’ is ‘n mooi gedagte, maar dis nie waar nie. Jy sê: “Maar die Bybel sê: ‘Die liefde sal nooit vergaan nie…'” (1 Korintiërs 13:8 NLV). Ja, maar dit sê ook: ‘Die liefde is geduldig en vriendelik…’ (vers 4 NLV).

Jy gaan ‘n berg geduld en vriendelikheid nodig hê om die situasie te maak werk. Dus:

1) Berei jouself en jou kinders vir die veranderinge wat gaan plaasvind, voor.
2) Luister na jou kinders se vrese, sonder om te sê: ‘Moenie laf wees nie, alles sal uitwerk.’ Vir so lank as wat hulle nodig het om daaroor te praat, so lank moet jy na hulle luister.
3) Bid, bid, bid! Vra God om vir jou sy plan te gee om hierdie samevoeging so pynloos en stresvry as moontlik te maak. Jou nuwe maat mag dalk aan jou persoonlike behoeftes vir liefde en sekuriteit voldoen – maar onthou dat jou kinders dieselfde behoeftes het.

Sielskos: 2 Kon 1:1-4:17; Matt 22:15-33; Ps 106:24-48; Spr 7:3-5