Verander jou gedagtes en verander jou lewe
2023-08-10Filippense 4:8 NLV
Paulus skryf: ‘Weet julle waaraan julle moet dink in plaas daarvan om julle te sit en bekommer? Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is. Moenie julle tyd mors om aan allerhande nuttelose dinge te sit en dink nie. Hou julle besig met dinge wat die moeite werd is en wat God in ‘n goeie lig stel’ (vers 8 DB).
As jy ernstig daaroor is om ‘n beter lewe te verkry, moet jy die manier wat jy dink verander. Die beste manier om op te hou dink aan iets is om eenvoudig aan iets anders te dink. Wanneer jy nie ‘n sekere televisieprogram geniet nie, wat doen jy? Jy verander van kanaal! Bestaan die program waarvan jy nie hou nie, nie meer nie? Nee, dis nog steeds daar indien jy sou besluit om dit weer te probeer kyk.
Net so, wanneer jy jouself vind waar jy in ‘n gedagtepatroon vasgevang wat nadelig vir jou is, neem aksie. Weier om jou gedagtes aan die Duiwel vir sy planne uit te leen. Die enigste mag wat ‘n gedagte oor jou het, is die mag wat jy daaraan gee. God het gesê: ‘Vandag gee ek aan jou die keuse tussen lewe en dood, tussen seën en vloek… Mag jy tog die lewe kies…’ (Deuteronomium 30:19 NLV). Om die regte gedagte te kies is soos om ‘n lig aan te skakel; dit verdryf die donkerte en verlig die kamer. Jou mees dominante gedagtes sal jou lewe beheer, maak dus seker dat hulle in lyn met God se Woord is. Verander vandag jou gedagtes en verander jou lewe.
Sielskos: Deut 25-27; Mark 4:13-25; Ps 119:25-32; Spr 17:11-15