Verander jou denkwyse!

2021-08-26
Jesaja 54:3 NLV

God het vir sy mense gesê: ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het… Ek gaan iets nuuts doen…’ (Jesaja 43:18-19 NLV). As jy dus vir God vir ‘n visie vra, of om die een wat Hy reeds vir jou gegee het te vergroot, moet jy geestelik plek daarvoor maak. ‘Maak jou woning groter. Span jou tent wyer, en moenie huiwer nie. Maak die tentlyne langer en slaan die penne dieper in. Want jy sal na links en regs uitbrei…” (Jesaja 54:2-3 NLV). Moenie met middelmatigheid in jou werk, jou verhoudings of you wandel met God tevrede wees nie.

Mark Twain het gesê: ‘Twintig jaar van nou af sal jy meer teleurgesteld wees deur die dinge wat jy nie gedoen het nie, as deur die dinge wat jy gedoen het. Gooi dus die booglyne af. Vaar weg van die veilige hawe. Vang die wind. Verken. Droom. Ontdek.’ Selfs indien jy uit ‘n agtergrond van verslawing, armoede, depressie, mishandeling en lae selfbeeld kom, sal God jou in staat stel om op te staan en ‘n einde aan daardie ou denkwyse van nederlaag en mislukking te maak.

In Bybelse tye was diervelle gebruik om wynhouers te maak. Aan die begin was hulle buigbaar en maklik om mee te werk, maar namate tyd verby gegaan het, het hulle onbuigsaam geword en hulle vermoë om uit te sit, verloor. Dis hoekom Jesus gesê het: ‘Net so min gooi ‘n mens nuwe wyn in ou leersakke. Doen jy dit tog, sal die sakke skeur en die wyn uitloop… Nee ‘n mens gooi nuwe wyn in nuwe leersakke; dan hou al twee goed’ (Matteus 9:17 NLV). Gooi jou ou wynsakke weg! God sal nie versteende gedagtes met nuwe idees deurtrek nie, maar Hy sal jou lewe verander wanneer jy jou denke in lyn met syne bring.

Sielskos: Amos 5:18-9:15; Luk 17:20-37; Ps 119:145-160; Spr 19:1-2