Vat dit rustig, Ma

2024-03-10
Romeine 12:3 NLV

‘n Ou, moeë hond het by ‘n vrou se erf ingestap. Sy kon aan sy voorkoms sien dat hy uit ‘n goeie huis kom. Hy het haar by die huis in gevolg en dadelik aan die slaap geraak. Twee ure later, het hy na die deur toe gestap en sy het hom uitgelaat. Die volgende dag het hy teruggekeer, weer sy posisie ingeneem en vir ‘n paar uur geslaap. Dit het vir ‘n week so aangegaan. Die vrou was nuuskierig en het ‘n nota aan sy halsband vasgemaak: ‘Jou hond kom elke middag na my huis toe vir ‘n middagslapie.’ Die volgende dag het die hond met ‘n nota opgedaag: ‘Hy lewe in ‘n huis saam met tien kinders – lyk my hy het bietjie alleentyd nodig. Kan ek môre saam met hom kom?’ As jy ‘n ma is, kan jy jou hiermee vereenselwig!

Carla Barnhill, die outeur van The Myth of the Perfect Mother, skryf: ‘Ek kan dit nie meer doen nie. Ek kan nie aanhou om SuperMa te probeer wees nie. Ek het probeer om die perfekte kombinasie van toegewyde ma, liefdevolle vrou en goeie Christen te wees… en ek het klaaglik misluk. Selfs al kon ek dit alles regkry, is ek nie oortuig dat enigeen van ons dit moet regkry nie. Ons hoef nie indrukwekkend te wees of ‘n paar willekeurige reëls te volg oor hoe moederskap moet lyk nie. Genade beteken dat ons reeds vir die Een wat die meeste saak maak, saak maak – ons goeie, liefdevolle en genadige God! Kom ons los dus ons mantels, sit ons stralekranse neer, pak ons medaljes weg en laat ons die soms gebrekkige, soms wonderlike mammas wees wat God ons gemaak het om te wees.’

Met ander woorde: ‘…jy [moet] jouself nugter… beoordeel…’

Sielskos: Eks 20:17; 2 Kon 5:1-27; Pred 5:10; Luk 12:13-31