Vader (3)

2017-08-19
Spreuke 23:15 NLV

Vaderlose kinders is 100 tot 200 persent meer geneig om emosionele en gedragsprobleme te ervaar, twee keer meer geneig om dwelms en alkohol te gebruik, meer geneig om op ‘n jong ouderdom seksueel aktief te raak en drie keer meer geneig om ‘n gewelddadige misdaad te pleeg. Meer as 50 persent van tieners wat selfmoord poog, word in enkelouer huise groot. Die meeste kinders wat van die huis af weghardloop verlaat vaderlose huise en seuns sonder vaders is 300 persent meer geneig om in die tronk te beland. Sewentig persent van jongmense in langtermyn korrektiewe fasiliteite het sonder ‘n pa groot geword. Vaderlose dogters is 53 persent meer geneig om in hulle tienerjare te trou, en 164 persent is meer geneig om kinders buite die huwelik te kry. Vaderlose dogters het ‘n 92 persent hoër egskeidingsyfer en vaderlose seuns is 35 persent meer geneig om mislukte huwelike te hê. Tagtig persent van tieners in psigiatriese hospitale kom uit vaderlose huise en is 50 persent meer geneig om met leerprobleme te sukkel. Hulle vorder slegter op skool, en is drie keer meer geneig om die skool vroeg te verlaat as kinders wat in ‘n huis met ‘n pa groot geword het. Dit is ook moontlik om fisies teenwoordig, maar emosioneel afwesig te wees. Navorsing bewys dat die gemiddelde pa agt minute ‘n dag in direkte gesprek met hulle kinders spandeer. In families waar die ma uithuisig werk, verminder dit na vier minute. As jy hierdie statistieke skokkend vind, word wakker en doen iets daaraan!

Sielskos: 2 Kron 12-15; Mark 6:14-29; Ps 119:105-112; Spr 21:28-31