Tyd om huis skoon te maak!

2018-12-31
2 Kronieke 29:5 NLV

In Skotland is daar ‘n nuwejaarstradisie wat behels om jou huis skoon te maak, die as uit jou vuurherd te vee en om jou uitstaande skuld af te betaal. Dit gaan daaroor om die oue weg te neem om plek vir die nuwe te maak. Van tyd tot tyd moet jy ook jou geestelike huis skoonmaak. Die Bybel sê, ‘…Verwyder alles wat besoedel is…’ Hoekom? Omdat verkeerde houdings, slordige vakmanskap en slegte gewoontes oor tyd insluip en ons vir dit wat belangrik is, verblind. Sheila Coleman sê: ‘Tien jaar gelede het ek die huis van bo tot onder skoongemaak. Ek het elke hoekie en draaitjie afgestof en die bad en wasbak geskrop tot hulle geblink het. Die huis was nog nooit so skoon nie. Vandag – tien jaar later, is dit steeds skoon. Dit was nog nooit weer nodig vir my om die stoffer of stofsuier op te tel of die kombuistoonbank af te vee nie. My huis lyk steeds so skoon soos dit daardie dag gelyk het, nè? Verkeerd! Ons moet aanhoudend ons geestelike huis skoonmaak, omdat ons in ‘n vuil wêreld lewe. Net soos na ons huise, karre en klere omgesien moet word, moet ons harte – ons geestelike huise – op ‘n gereelde basis skoongemaak word. Nie een keer ‘n week of een keer ‘n maand nie; en verseker nie elke tien jaar of een keer in ‘n leeftyd nie. Ons moet God toelaat om ons elke dag skoon te maak en te vernuwe. Is daar ‘n kamer in jou ‘huis’ wat jy Hom nog nie toegelaat het om skoon te maak nie? As dit ‘n rukkie is vandat God jou hart deeglik skoongemaak het, maak die volgende jou gebed: Here, maak my hart skoon sodat U deur my kan skyn en kan lewe.’

Sielskos: Job 39-42; Luk 2:51-52; Ps 139:13-24; Pred 11:7-10