Ter ere van Mammas!

2021-03-14
Spreuke 31:28 DB

Regdeur die geskiedenis was digters en sprekers oorvloedig met hulle huldeblyke aan moederskap. George Washington het gesê: ‘My ma was die mooiste vrou wat ek al ooit gesien het. Alles wat ek is, het ek aan my ma te danke. Ek skryf my sukses in die lewe aan die morele, intellektuele en fisiese opvoeding wat ek by haar ontvang het, toe.’ Abraham Lincoln het geskryf: ‘My ma se gebede het my gevolg. Hulle het my hele lewe aan my gekleef.’ Charles Haddon Spurgeon het gesê: ‘Ek kan jou nie vertel hoeveel ek aan die plegtige woorde van my goeie moeder te danke het nie.’

Die offisiële viering van Moedersdag in Amerika kan aan die aanhoudende briewe en druk van een volhardende vrou toegeskryf word. Toe Anna Jarvis se ma in 1905 oorlede is, het Anna besluit om haar lewe aan ‘n veldtog om publieke erkenning aan die moeders van Amerika te gee, toe te wy. Toe sy leer dat die Amerikaanse kongres ‘n wet moes goedkeur om sodoende moedersdag tot ‘n jaarlikse instelling te kan vestig, het Jarvis ‘n een-vrou drukgroep geword. Ontduiking, onverskilligheid en vyandigheid het haar nie af geskrik nie.

Nege jaar later kon sy vreugde in die sukses van haar inspanning vind. President Woodrow Wilson het verklaar dat Moedersdag vanaf 9 Mei, 1914, jaarliks gevier sal word. In 1948 is Jarvis, blind en armoedig, in Philadelphia oorlede, maar haar droom is bewaarheid.

Die Bybel sê: ‘Waar sal jy ‘n knap vrou kry? ‘n Goeie vrou is meer werd as edelstene… Sy werk baie hard. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy praat met wysheid, sy gee raad saam met liefde… Haar kinders is trots op haar…’ (verse 10, 17, 26, 28 NLV). Kan daar ‘n waardiger huldeblyk wees?

Sielskos: Jes 61:1-9;
Luk 4:16-30