Vrede wat die verstand te bowe gaan

2025-12-03
Filippense 4:7 NLV

Maak nie saak waarmee jy sukkel nie, dis goed om te onthou: ‘Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas.’

Lorie Newman skryf: ‘Ek het daardie vrede ontvang toe my man sy werk verloor het. Ons moes nou met net een inkomste ons sewe kinders grootmaak en ons verband en rekeninge betaal. Sal ons ons huis verloor? Hoe kan ons ons groot gesin voed? Hierdie vrae het my gedagtes soos verstikkende rook vertroebel. Te midde van hierdie emosies het God egter lewe in my bekommerde hart gespreek. Werkloosheid was vir byna twee jaar ons werklikheid.

Die waarheid van God se Woord het egter dag vir dag, stap vir stap, die wanhoop begin oorskadu en ek het ongelooflike vrede gehad! God se Woord het soos nog nooit tevore lewendig geword nie, terwyl ek deur die onstuimige waters van daardie rowwe seisoen van die lewe gevaar het. Ek het voorheen gelees dat God my voorsiener is, maar ek het Hom as my voorsiener begin ken en ervaar! Wat ‘n tyd van verskriklike stres moes gewees het, het ‘n plek van vrede geword.’

Wanneer probleme opduik, is ons natuurlike neiging om paniekerig te raak. Wanneer ons dit doen, maak ons die deur vir die Vyand oop om ons van die pad af te stoot en ons te vikitimiseer. Neem hierdie woorde van Jesus ter harte: ‘Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV).

Sielskos: Josua 22-24; Joh 16:19-33; Ps 147:1-11; Spr 29:1-5

Skep ‘n vredevolle atmosfeer

2025-11-18
Kolossense 3:15 NLV

Hoeveel vrede stel jy ten toon? Hoe reageer jy op struikelblokke by jou werkplek? Is jy altyd gespanne en besig om te kla? Is jou lessenaar netjies en georganiseerd, of staan daar stapels papiere orals rond? Wanorde kan geestelik ontstellend wees, stres veroorsaak en jou vrede steel. Wat van jou algehele gedrag? Vererg jy jou altyd oor kollegas se foute? Ontstel die klein dingetjies jou? Besef jy dat dit ‘n baie slegte getuienis is om nie vrede, wat ‘n vrug van die Gees is, uit te straal nie? ‘Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing…’ (Galasiërs 5:22-23 NLV).

Wat van jou daaglikse pendel werk toe? Sit jy in die kar met die doel om ‘n vredevolle atmosfeer te behou, ongeag die omstandighede wat jy op die pad mag teëkom? Wanneer laas het jy vir ‘n slegte of onvriendelike bestuurder gebid? Speel jy kalmerende musiek? Die regte musiek kan ‘n uitstekende bron van vrede wees.

Toe koning Saul deur ‘n bose gees getreiter is, het sy amptenare vir hom gesê: ‘Laat ons iemand kry wat goed op die lier kan speel. Wanneer die bose gees u lastig val, sal die musiek u kalmeer sodat u gou weer beter sal voel’ (1 Samuel 16:16 NLV). Jesus het gesê: ‘Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle…’ (Johannes 14:27 NLV). Dit beteken dat waar jy ook al gaan, jy die vrede van God saam met jou kan neem.

Sielskos: 2 Kro 22-24; Joh 12:12-19; Ps 102:1-11; Spr 27:7-9

Jou beker vol seëninge

2023-03-11
Psalm 23:5 NLV

Dawid het gesê: ‘Wanneer ek loop in ‘n donker vallei, sal ek nie bang wees nie, wat U is naby my. U stok en u staf beskerm en ondersteun my. U berei vir my ‘n feesmaal voor die oë van al my vyande. U verwelkom my as ‘n eregas deur my kop te salf met olie en my beker vol te maak met seëninge’ (verse 4-5 NLV).

God het nie beloof dat jy nie met die dood, of vrees, of die bose, of vyande te doen sal kry nie. Hy het eenvoudig gesê dat ten spyte daarvan, of selfs soms te midde daarvan, jou beker vol seëninge sal wees. Paulus skryf: ‘En God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee sodat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk’ (2 Korintiërs 9:8 NLV). Hy deurweek jou met vreugde en vrede, sodat ‘…julle lewens tot oorlopens toe vol verwagting word deur die kragtige werking van die Heilige Gees’ (Romeine 15:13 NLV). Hy gee jou vreugde in oorvloed, sodat ‘…julle… die wonderlike blydskap wat julle in julle voel, eintlik nie onder woorde [kan] bring nie’ (1 Petrus 1:8 NLV). Hy gee jou oorvloedige vrede – Hy gee ‘…God se vrede… Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink…’ (Filippense 4:7 NLV).

Wanneer jy dus sukkel om met jou salaris uit te kom, of die toekoms vrees, kyk in die spieël en sê: ‘God is my bron; ek het meer as genoeg, my beker is vol seëninge.’ Moet dit ook nie net in tye van nood of krisis doen nie; maak dit ‘n gewoonte wat jy elke dag uitoefen.

Sielskos: Eks 36-38; Luk 15:11-32; Ps 27; Spr 7:10-20

Vrede sal jou gedagtes oppas

2023-01-31
Filippense 4:7 NLV

Wyse mense maak nooit belangrike besluite terwyl hulle in ‘n verkeerde emosionele toestand is nie. Toe Elia uitgevind het dat koningin Isebel op sy spoor is, was hy gereed om sy rol as profeet op te gee en te sterf. Dus het God vir hom veertig dae van rus, gebed en herstel gegee. Toe was hy gereed om op die basis van sy geloof in God en nie as gevolg van sy vrees vir Isebel nie, besluite te neem. Sy besluit na veertig dae van rus was baie anders as wat dit voor sy rustydperk sou gewees het.

Jy het seker al gesien hoe mense vreeslike besluite, wat hulle nooit andersins sou geneem het nie, neem wanneer hulle gedreineer, moeg, ontmoedig en bang is. Oor die algemeen sal jy nie die regte plan van aksie kies wanneer jy in die verkeerde gemoedstoestand is nie. Wanneer jy ‘n belangrike besluit moet maak, is die wysste ding wat jy kan doen om te wag totdat jy uitgerus is. ‘n Angstige gemoedstoestand in ‘n moeë liggaam kan tot ‘n baie verkeerde besluit lei.

Die Bybel sê: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (verse 6-7 NLV).

Die vrede van God sal jou gedagtes oppas, sodat jy nie impulsief, selfsugtig of kwaadwillig sal optree nie. Dit sal jou oppas sodat jy nie op enige manier optree wat verlies eerder as wins en spyt eerder as vreugde tot gevolg sal hê nie.

Sielskos: Gen 17-19; Luk 7:1-10; Ps 107:17-22; Spr 3:21-24

Die belangrikheid van slaap

2022-12-08
Jeremia 31:26 NLV

Soms is die mees ‘geestelike’ ding wat jy kan doen om vroeg bed toe te gaan en verfris wakker te word, sodat jy gereed is om God se doelwitte vir die dag te vervul. Wanneer jou battery konstant laag is, word dit in jou houding, jou verhoudings, jou optrede en jou gesondheid, weerspieël.

Dis hoekom die Bybel oor die belangrikheid van slaap praat:
1) ‘Tevergeefs werk jy so hard, van vroegoggend tot laatnag, soos jy swoeg om te bestaan, maar vir hulle wat Hy liefhet, gee Hy dit in hulle slaap’ (Psalm 127:2 NLV).
2) ‘Ek sal in vrede gaan lê en slaap, want U alleen, o Here, laat my veilig woon’ (Psalm 4:9 NLV).

Slaap is ‘n vertrouensdaad: Wanneer jy gaan slaap, erken jy dat die wêreld in God se hande, nie joune nie, is. Wanneer jy môreoggend wakker word, net soos God vir Israel vars manna gegee het, sal Hy vir jou gee wat jy vir die dag nodig het. Jeremia het gesê: ‘Toe het ek wakker geskrik en rondom my begin kyk. Wat ek ervaar het terwyl ek geslaap het, was baie aangenaam.’

Het jy al ooit probeer bid as jy nie genoeg geslaap het nie? Dis moeilik. Voor Elia in staat was om langdurige tye in gebed deur te bring, het die engel van die Here hom gedwing om nie net een nie, maar twee lang slapies te vat. Kontrasteer dit met die dissipels in Getsemane wat nie kon bid nie, omdat hulle aanhoudend aan die slaap geraak het. Dis moeilik om soos Jesus te dink, te voel en op te tree wanneer jy slaap kort. Dis hoekom die Bybel sê: ‘…vir hulle wat Hy liefhet, gee Hy dit in hulle slaap’ (Psalm 127:2 NLV).

Sielskos: Jos 8:30-10:43; Joh 14:15-25; Ps 147:1-11; Spr 29:1-5