2026-08-30
1 Samuel 17:26 NLV
Veertien geslagte voordat Dawid teen Goliat geveg het, het God vir Abraham gesê: ‘Ek sal dié seën wat jou seën en dié wat jou vervloek, sal Ek vervloek…’ (Genesis 12:3 NLV). Later het God hierdie verbond na Abraham se nageslag uitgebrei en ‘n sleutelbepaling bygevoeg: ‘Julle moet aan die voorhuid besny word. Dit is ‘n teken dat julle my verbond nakom’ (Genesis 17:11 NLV).
Blykbaar het niemand in Saul se leër, insluitend Saul self, onthou dat hulle ‘n verbond met God het nie. Dit het Dawid genoop om te vra: ‘Wie is hierdie onbesnede Filistyn dat hy die leër van die lewendige God so beledig?’ Dawid het met ander woorde gevra: ‘Hoe kan hierdie man, wat geen verbond met God het nie, selfs daaraan dink dat hy ons sal kan oorwin?’
Glo jy dat God deur sy verbond diegene wat in ‘n egte verhouding met Hom is, sal seën, beskerm en voorspoedig maak? As jy aanhou om van die reuse in jou lewe weg te vlug, sal jy nooit die krag van God gemanifesteer sien nie. Het jy geweet dat jy ‘n erfgenaam van dieselfde verbond van seën wat God aan Abraham gegee het, is? ‘Verder, omdat julle aan Christus behoort, ís julle die nageslag van Abraham en dus erfgename van die belofte!’ (Galasiërs 3:29 NLV).
Dawid het op ‘n verbond van beskerming wat veertien geslagte oud was en vandag nog steeds geldig is, staatgemaak. Die verhaal van Dawid en Goliat is verteenwoordigend van die vele gevegte wat ons gereeld in die gesig staar: goed oor kwaad en geloof oor vrees. Wat ook al die situasie is, ons kan rus op God se Woord: ‘Want hierdie blye boodskap van ‘n plek van rus wat God vir ons gereedgemaak het, het ons ook ontvang…’ (Hebreërs 4:2 NLV).
Sielskos: Rig 6:24; Joh 14:27; 1 Pet 3:8
2026-07-15
Josua 3:10 NLV
Dit was geen geringe taak om die Jordaanrivier, wat op plekke tot ‘n myl breed was, oor te steek nie. Veral nie met ‘n miljoen mense wat jou volg nie! God het gesê: ‘…jy [moet] gereedmaak om my volk deur die Jordaanrivier te lei…’ (Josua 1:2 NLV). Dink jy hulle was bang? Sou jy gewees het? ‘Die priesters wat die ark dra, het… hulle voete in die vlak water [ge]sit…’ (Josua 3:15 NLV). Dit was ‘n klein treetjie, maar God kan die kleinste treetjie van geloof in die magtigste wonderwerk omskep.
Toe die priesters se voete die water raak, het die water begin opdam asof iemand die kraan toegedraai het. Vervolgens lees ons: ‘…Almal van Israel het deur die droë bedding gegaan…’ (vers 17 NLV). Deur hierdie wonderwerk te verrig, wou God hê Israel moet weet: ‘…Vandag gaan julle weet dat die lewende God hier tussen julle is…’ Israel het hierdie werklikheid besef toe hulle op droë grond gestaan en na die Jordaan teruggekyk het.
Ons besef hierdie werklikheid wanneer ons op die voltooide werk van Christus staan en na die kruis terugkyk. Laat die kruis jou oortuig. Wees seker van God se getrouheid. Die Psalmdigter beskryf ‘n persoon van geloof as volg: ‘…hy is gerus, hy vertrou op die Here’ (Psalm 112:7).
Die lewe het baie onbeantwoorde vrae, maar jy hoef nie aan God se belofte om jou te verlos, te twyfel nie. ‘As God werklikwaar nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal aan die dood oorgegee het, is daar tog geen manier waarop Hy nie ook alle ander goeie dinge aan ons sal skenk nie’ (Romeine 8:32 NLV). Rus in jou verlossing. Die verlede is verby. Jou toekoms blink.
Sielskos: Ef 1:1-4:16; Matt 26:47-56; Ps 118:19-29; Spr 18:10-12
2026-06-09
1 Korintiërs 15:10 NLV
Trots bevorder selfstandigheid. Dit sê vir ons dat ons inderdaad dinge op ons eie kan doen. In ons poging om in selfvertroue te wandel, slaan ons die deur in God se gesig toe en sluit die werk van die Heilige Gees, ons Helper, uit. Paulus was geleerd, gesofistikeerd en toegewyd, maar hy het nederig verklaar: ‘Ek is werklikwaar die geringste van al die apostels, een wat die naam van ‘n apostel nie werd is nie omdat ek God se kerk vervolg het. Maar deur God se onverdiende goedheid is ek vandag wat ek is. Hy het sy goedheid nie tevergeefs aan my bewys nie. Ek het harder gewerk as al die ander – en tog was dit ook weer nie ek nie, maar God se goedheid wat my gedra het’ (verse 9-10 NLV).
Dit maak nie saak hoeveel talente en vermoëns jy besit nie, sonder God sal dit jou net tot by ‘n sekere punt bring. Jesus het gesê: ‘Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan my verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie’ (Johannes 15:5 NLV). Die bron van ons vertroue moet dus God en nie onsself wees nie.
Wanneer mense wat in Godvertroue wandel se planne skeefloop, is hulle wys genoeg om hul begeertes ondergeskik aan die soewereine wil van God te stel. Hulle herinner hulself vinnig: “‘n Mens kan hoeveel planne maak, maar op die ou einde gebeur wat die Here besluit het” (Spreuke 19:21 NLV). Hulle is oortuig dat God ‘n hoër doel vir hul lewe het en dat geen mens dit kan dwarsboom nie. Oefen dus Godvertroue eerder as selfvertroue uit.
Sielskos: Eseg 20-21; Matt 17:1-13; Ps 132:1-10; Spr 15:1-4
2026-03-14
Eksodus 14:14 NLV
Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die Britse Departement van Inligting drie plakkate ontwerp. Die eerste het gelees: ‘Your courage, your cheerfulness, your resolution will bring us victory.’ Die tweede het gelees: ‘Freedom is in peril.’ Die derde en bekendste plakkaat het gelees: ‘Keep calm and carry on.’ Die departement het 2,45 miljoen van die derde soort plakkaat gedruk, maar dit is nooit in die openbaar vertoon nie. Hierdie leuse het so te sê uit Brittanje se bewussyn verdwyn, todat ‘n paartjie wat ‘n boekwinkel in Alnwick besit – Stuart en Mary Manley – ‘n oorspronklike kopie van die plakkaat onder in ‘n boks ou boeke ontdek het.
Met farao se strydwaens wat van agter op hom afjaag en die Rooi See voor hom, het Moses hom op ‘n moeilike en gevaarlike plek bevind. Dit is toe dat God vir Moses hierdie instruksie gee: ‘…Hierdie Egiptenaars wat julle vandag hier voor julle sien, sal nooit ooit weer gesien word nie. Wag en kyk! Die Here sal in julle plek veg’ (Eksodus 14:13-14 NLV).Dit klink baie soos ‘Keep calm and carry on,’ nie waar nie? Dit moes baie moeilik gewees het om stil te staan terwyl die Egiptiese strydwaens teen volle spoed reguit op die Israeliete afstorm.
Wanneer ons onsself in hierdie soort situasie bevind, wil ons iets doen – enigiets. Ons het ‘n senuweeagtige energie wat probeer om probleme so vinnig as moontlik op te los. Dit is egter in hierdie toetse wat geloof en vertroue geopenbaar word. Soms lei God ons na ‘n plek waar ons nêrens anders heen kan gaan as na Hom nie. Is dit waar jy vandag is? Vertrou dan op God se krag, liefde en getrouheid en Hy sal jou veilig daardeur lei.
Sielskos: Op 1-4; Luk 17:1-19; Ps 26; Spr 7:26-27
2026-02-10
Psalm 34:7 NLV
Dit was vyf-en-twintig jaar sedert Fontella Bass se enkelsnit, ‘Rescue Me,’ nommer een op die trefferlyste gehaal het. Sy het geen loopbaan meer gehad nie, sy was bankrot, moeg en koud. Die enigste hitte in haar huis het van die gasstoof in die kombuis gekom. Sy het van haar geloof en die kerk waar sy as kind gospelliedjies begin sing het, afgedwaal.
Terwyl sy gebid het, het Fontella God gevra vir ‘n teken om te bevestig dat Hy haar gebede gehoor het. Skielik het sy haar trefferliedjie ‘Rescue Me’ op ‘n televisie-advertensie gehoor! Vir haar was dit asof ‘die Here reguit in my wêreld ingestap het!’ Fontella was onbewus daarvan dat American Express haar liedjie in ‘n advertensie begin gebruik het en haar nie kon opspoor om tantième aan haar oor te betaal nie.
Nie net het sy uiteindelik die tantième ontvang nie, maar nuwe geleenthede om te sing het ook vir haar begin oopgaan. Kort daarna het sy ‘n nuwe album vrygestel. Die beste nuus was egter dat sy haar verhouding met die Here hernu het. ‘Vir soveel jare het ek probeer om alles op my eie te doen, maar dit het nie gewerk nie,’ het sy gesê. ‘Toe het ek dit uit my hande geneem en aan Hom oorhandig, en nou gebeur alles vanself.’
Die Psalmdigter Dawid het geskryf: ‘Hierdie geringe mens het geroep, en die Here het gehoor. Hy het hom uit al sy benoudheid gered… Beproef en sien dat die Here goed is. Geseënd is die persoon wat op Hom vertrou!’ (Psalm 34:7,9 NLV). Wat God vir Dawid en Fontella Bass gedoen het, sal Hy ook vir jou doen wanneer jy na Hom toe draai.
Sielskos: Num 34-36; Luk 9:18-27; Ps 138; Spr 4:14-17