Jabes (4)

2018-05-04
1 Kronieke 4:10 NLV

Nie net het Jabes groot ambisie gehad nie, hy het ook ‘n groeiende geloof en ‘n diepe vertroue in God gehad. Hy het genoeg geloof gehad om te bid en ‘n antwoord te verwag. Hy was soos die sendeling William Carey wat gesê het, ‘Verwag groot dinge van God en probeer groot dinge vir God.’ Daar word nie genoem dat Jabes enige spesiale vaardighede of talente gehad het nie. Die Bybel sê nie dat hy ryk of opgevoed was nie. Hy was eenvoudig ‘n gewone man met ‘n ongewone geloof. Moenie bekommerd wees oor dit wat jy nie het nie – mits jy geloof het! God sal aan jou die nodige krag voorsien. Hy is lief daarvoor om gewone mense wat gewillig is om Hom te vertrou te gebruik en te sien hoe hulle sukses behaal. Baie mense met groot talente sit op die kantlyn terwyl gewone mense met geloof die doele skop en wen. Nog ‘n interessante feit is dat Jabes glo een of ander tipe gestremdheid of agterstand gehad het. ‘Jabes’ beteken ‘pynlik’ in Hebreeus. Jabes het sy ma soveel moeilikheid tydens geboorte gegee dat sy hom ‘Pynlik’ genoem het. Hoe sal jy daarvan hou om met so ‘n naam deur die lewe te gaan? Hy mag dalk ongewens en ongeliefd gewees het. Hy was egter sterker as sy gestremdheid en sy geloof het hom aangespoor. Sy oë was op die toekoms gerig, nie op die verlede nie. Hy het geglo dat as God hom seën, sy toekoms beter as sy verlede sal wees. Wat is jou agterstand? Is dit fisies? Is dit geestelik? Is dit ‘n ongelukkige kindertyd? Is dit ‘n frustrerende werk of ‘n gebroke huwelik? Wat dit ook al mag wees, Jesus het gesê, ‘…As ‘n mens glo, is álles moontlik!’ (Markus 9:23 NLV).

Sielskos: Deut 5-7; Mark 6:14-29; Ps 37:1-7; Spr 11:24-26

Wanneer jy vrees en geloof ervaar

2018-04-19
Deuteronomium 31:6 NLV

Enige tyd wanneer jy iets vir die eerste keer probeer, of iets waarin jy voorheen misluk het, of iets wat jy dink te groot vir jou is, sal jy beide vrees en geloof ervaar. Hulle gaan hand aan hand. Een sal die ander een oorwin, maar hulle gaan nooit weg nie. Omdat Israel geen idee gehad het watter uitdagings vir hulle voorgelê het nie of hoe die lewe in die Beloofde Land sou wees nie, het God vir hulle gesê, ‘Wees sterk en hou moed!.. Die Here julle God sal met julle wees. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie.’ Dis vandag ook sy belofte aan jou! Dis die vrees vir mislukking wat ons die meeste van die tyd terughou. Tog besef jy wanneer jy terugkyk dat mislukking glad nie permanente skade aanrig nie; jy groei inteendeel as gevolg daarvan. Dr Joan Borysenko skryf: ‘Toe ek by Harvard toegelaat is, was ek seker dat dit as gevolg van ‘n rekenaarfout was. ‘n Prokureursvriend van my raak elke keer angsbevange net voor sy die slotargument voor ‘n jurie moet gee. Selfs wanneer jy ‘n kenner is, verdwyn vrees nie noodwendig nie. Dit is wanneer jy vrees as deel van die reis aanvaar, eerder as om daarvan af weg te hardloop, wat dit jou help om dit te oorwin.’ Om enige plek te kom, moet jy êrens begin, anders gaan jy nêrens nie. Die Amerikaanse essayis Hamilton Wright Mabie het gesê, ‘Die vraag wat elke mens moet beantwoord is nie wat hy sal doen as hy die inkomste, tyd, invloed en opvoedkundige voordele gehad het nie, maar wat hy sal doen met die dinge wat hy het.’ Konfronteer dus jou vrees, neem ‘n tree in geloof en vertrou God vir jou sukses.

Sielskos: Hand 6-7; Mark 3:20-27; Ps 75; Spr 10:22-23

Deur God gekies en aangestel (4)

2018-04-08
Johannes 15:16 NLV

God het jou op ‘n spesifieke manier ontwerp. Hy het jou lewensrigting gekies. Hy het jou bewaar toe jy gedink het dat jy dit nie gaan maak nie. Hy het jou gedruk toe jy uit stoom uit gehardloop het. ‘Die Here bepaal die rigting van ‘n mens, en met sý lewe is Hy tevrede. Al sou so een struikel, hy sal nie val nie, want die Here hou sy hand vas’ (Psalm 37:23-24 NLV). Hy wil hê dat jy moet wen. ‘Maar geen wapen wat teen jou gemik word, sal iets teen jou kan uitrig nie… Dit is die erflating van die dienaars van die Here…’ (Jesaja 54:17 NLV). Dit beteken dat die aanval teen jou nie sal slaag nie! Om deur God gekies te wees beteken egter nie dat jy kan voortgaan om jou eie ding te doen nie. Paulus sê, ‘Beteken dit nou dat ons in die sonde moet voortlewe sodat die genade steeds oorvloediger kan word? Hoegenaamd nie! Ons is immers dood vir die sonde. Dis tog onmoontlik dat ons nog langer daarin kan voortlewe!’ (Romeine 6:1-2 NLV). Wanneer jy gekies en aangestel word, het jy die versekering van jou posisie in Christus, selfs wanneer jou kondisie nie op dieselfde vlak is nie. Dit is ook hoekom God versoekings en toetse toelaat. Hy weet dis nodig om jou afhanklik van Hom te hou. Die eerste opdrag wat God vir die mens gegee het, was om vrugbaar te wees (sien Genesis 1:28). Hy wil hê dat jy produktief moet wees en sukses in elke aspek van jou lewe moet behaal. Jesus het gesê, ‘…dit maak julle Vader baie gelukkig om die koninkryk aan julle te gee’ (Lukas 12:32 NLV). Wanneer hierdie konsep in jou gees wortel skiet, sal dit jou lewe verander!

Sielskos: Gal 5:22; Jes 61; Heb 12:2; Jes 35:3-10

Bid dat God hulle harte sal oopmaak

2017-12-19
Handelinge 16:14 NLV

Sommige van ons dink dat suksesvolle mense moeilik is om vir Christus te wen omdat hulle nie dieselfde behoeftes as ander mense het nie. Hulle het egter. Almal het ‘n leegheid binne in hulle wat net deur God gevul kan word, en Hy wil jou gebruik om dit te vul. Kyk na die verhaal van Lidia. ‘Een van dié wat geluister het, was ‘n vrou met die naam Lidia – iemand wat reeds die ware God vereer het. Sy was ‘n handelaar van pers wolmateriaal en was van die stad Tiatira afkomstig. Die Here het haar hart oopgemaak sodat sy ontvanklik was vir God se boodskap. Sy en die ander lede van haar huishouding is toe gedoop. Daarna het sy ons oorgenooi en gesê: ‘Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis.’ En sy het aangehou tot ons ingestem het’ (verse 14-15 NLV). Nie net het Lidia op die evangelie gereageer nie, sy het ook haar huis oopgemaak sodat ander mense ook daarna kon kom luister. Dit is in baie gevalle makliker om suksesvolle mense met die evangelie te bereik. Hoekom? Omdat hulle weet dat sukses daarvan afhang om oop vir nuwe idees en konsepte te wees. Hulle verstaan ook om aan te hou om sukses te behaal, moet hulle oop vir verandering wees. Moenie die feit dat iemand nie jou sosiale eweknie is nie, jou daarvan weerhou om hulle van Jesus te vertel nie. Dis jou werk om hulle van Jesus te vertel en God se werk om hulle harte daarvoor oop te maak! Saai dus die sade van sy Woord in hulle lewens wanneer jy die geleentheid kry en die Koning van die oes sal die res doen.

Sielskos: Job 8-10; Luk 1:11-25; Ps 12; Pred 9:10-12

Inspanning en luiheid

2017-12-08
Spreuke 14:23 NLV

In die boek Spreuke, praat Salomo gereeld van luiaards. ‘n Luiaard is nie ‘n persoon wat sal werk, maar nie ‘n werk kan kry nie; ‘n luiaard is ‘n persoon wat kan werk maar nie wil nie. Daar is ‘n verhaal van ‘n man wat vir hulp by die welsynskantoor aansoek gedoen het. Die welsynswerker het gevra, ‘Hoekom het jy finansiële hulp nodig?’ Hy het geantwoord, ‘Ek het probleme met my oë.’ Die werker het gevra, ‘Wat is die aard van die oogprobleem?’ Die man het geantwoord, ‘Ek kan myself net nie sien dat ek elke dag gaan werk nie.’ Elke luiaard het oogprobleme. Of dit pla hom nie solank iemand anders net die werk doen. President Theodore Roosevelt was reg toe hy gesê het: ‘Moet nie jammer wees vir enige man omdat hy moet werk nie. As hy sy sout werd is, sal hy werk. Ek beny die man wat werk het wat waardevol is om te doen en wat dit goed doen. Die beste prys wat die lewe bied, is by verre die kans om hard te werk aan iets wat betekenisvol is.’ Op ‘n manier het ons die gees van dit wat president Roosevelt bedoel het, verloor. Vra enige werkgewer en hulle sal vir jou sê dat dit moeiliker word om iemand te kry wat sal werk, wat hard sal werk, die werk reg sal doen en die taak sal voltooi. God is nie teen ontspanning gekant nie. ‘n Werker wat uitgerus en verfris is, is ‘n beter werker. Salomo se kontras in Spreuke is tussen inspanning en luiheid. Ouer, een van die beste dinge wat jy vir jou kinders kan doen, is om ‘n sterk werksetiek aan hulle oor te dra en hulle so vir sukses in die lewe voor te berei.

Sielskos: Gen 40-41; Joh 16:16-33; Ps 148:7-14; Pred 5:4-6