2018-10-30
Efesiërs 4:25 NLV
Vredemakers: Vredemakers floreer wanneer die lewe kalm is. Hulle is lief vir hierdie vers: ‘Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eengesind saamwoon!’ (Psalm 133:1 NLV). Hulle maak uitstekende beraders en bemiddelaars en kan gewoonlik versoening in families, gemeenskappe en werkplekke meebring. Soms is hulle egter geneig om vrede ten koste van enige prys te soek, hulle gebruik hul verhoudingsvaardighede om in die agtergrond te bly en hulle vermy dit om die inisiatief of risiko’s te neem omdat hulle te geheg aan gemak en sekuriteit is. Abraham is ‘n uitstekende voorbeeld van ‘n vredemaker. Toe hy en sy neef Lot begin vooruitgang maak het, het daar ‘n bakleiery tussen hulle veewagters uitgebreek omdat die land te klein was om al hulle vee te akkomodeer. Abraham het besef dat dit die familie in twee kon skeur en het aksie geneem, die probleem hanteer en die verhouding gered. Aan die ander kant, toe koning Abimelek Abraham se vrou, Sara, gesien het en haar deel van sy harem wou maak, het Abraham uit vrees vir sy lewe soos ‘n lafaard opgetree en ‘…vir die mense [vertel] dat sy vrou Sara sy suster is…’ (Genesis 20:2 NLV). Dis krities om jou sondepatroon te herken sodat jy dit effektief kan hanteer. Jesus het ons gewaarsku om nie die splinters in ander mense se oë raak te sien, as ons nie eers die balke in ons eie oë kan raaksien nie (sien Matteus 7:3). Jou sondepatroon is so aanloklik omdat dit jou grootste gevaar is; en dit is so naby aan jou dat jy dit moontlik nie sal raaksien nie. Dawid het gebid, ‘Wie kan sy eie oortredings herken? Spreek my vry oor verborge sondes, en bewaar my van opsetlike sondes! Laat hulle nie oor my heers nie…’ (Psalm 19:13-14 NLV).
Sielskos: Jes 26-29; Joh 7:1-13; Ps 114; Spr 28:1-4
2017-12-01
Matteus 5:9 NLV
Die motiveringspreker Zig Ziglar vertel van ‘n klein outjie wat deur drie boelies gekonfronteer is, waarvan enigeen van hulle groot genoeg was om hom plat te slaan. Dit was ook duidelik wat hulle in gedagte gehad het. Die klein outjie was egter baie slim. Hy het teruggestaan, ‘n lyn in die stof getrek, nog ‘n paar treë teruggestaan, die grootste boelie reg in die oë gekyk en gesê, ‘Ek daag jou uit om oor hierdie lyn te tree!’ Die boelie het dit gedoen. Toe het die klein outjie geglimlag en gesê, ‘Wonderlik, nou is ons twee aan dieselfde kant!’ Wanneer jy jouself in die middel van konflik bevind, kan jy besluit om een van twee dinge te doen: om ‘n moeilikheidmaker of ‘n vredemaker te wees. Jy kan tot die stres bydra of ‘n oplossing probeer vind. Vredemakers se doel is om ‘n wen-wen situasie te vind. Barnabas, wie se naam ‘Seun van Vertroosting’ beteken, het vir die nuut-bekeerde Saulus van Tarsus in die bres getree. Die leiers van die kerk het deur hom bedreig gevoel, waarvoor jy hulle nie kwalik kan neem nie. Barnabas het egter nie aan Paulus se gewelddadige agtergrond gedink nie; hy het sy waarde vir God oorweeg. Hy het inderwaarheid gedink, ‘As ons hierdie man kan inspan en lei, kan hy die wedloop vir ons wen.’ Hy is reg bewys. Saulus die vervolger het Paulus die apostel geword, maar nie voordat Barnabas sy eie geloofwaardigheid op die spel geplaas het nie (sien Handelinge 9:26-30). Om vrede te maak beteken dat jy risiko’s moet neem. Dit beteken dat jy mense volgens hulle beste kwaliteite en oomblikke moet evalueer. Vredemakers kyk na die groter prentjie en word deur genade, nie deur beuselagtige opinies en tydelike omstandighede, gelei nie. Wees dus ‘n vredemaker.
Sielskos: Gen 25:19-27:46; Joh 12:37-50; Ps 65; Spr 31:25-27
2017-10-11
2 Timoteus 1:7 NLV
Die Bybel sê, ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel…’ (Hebreërs 11:6 NLV). Moet dus by niks betrokke raak wat nie van jou verwag om jou geloof te gebruik nie. Die sleutel tot momentum is om altyd iets te hê om na uit te sien en om geloof in God daarvoor te hê. Wie nie waag nie, wen nie. Jesus het sy dissipels opsetlik in ‘n storm in gestuur. Hoekom? Om hulle geloof te ontwikkel en vir hulle te wys dat mens met Hom aan boord deur enigiets kan kom! God sal aanhou om jou aan moeilike situasies bloot te stel omdat Hy weet dat dit die enigste manier is wat jou geloof sal groei. Die negentiende eeuse Amerikaanse prediker, Phillips Brooke, het geskryf: ‘Moenie vir maklike lewens bid nie. Bid om sterker mense te wees. Moenie vir take gelyk aan jou krag bid nie, bid vir krag gelyk aan jou take.’ Jy kan nie toegang tot God se hulpbronne kry totdat jy nie iets probeer doen wat menslik onmoontlik lyk nie. Dit is wanneer jy ontdek: ‘Ek kan deur alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (Filippense 4:13 NLV). Alle vooruitgang behels risiko’s. Vooruitgang beteken dat jy jou vrese moet oorkom. Eendag, terwyl Dawid na sy skape gekyk het, het daar ‘n leeu gekom (1 Samuel 17:34). Met God se krag het hy hom egter verslaan – sowel as ‘n beer en later ‘n reus genaamd Goliat. Die leeu was ‘n geleentheid. As Dawid geweifel het of weggehardloop het, sou hy sy kans misgeloop het om die koning van Israel te word. As ‘n leeu van vrees dus jou lewe binnekom, herken dit vir wat dit is: ‘n geleentheid van God om in geloof op te staan en dit te oorwin.
Sielskos: Eks 19-21; Joh 2:1-11; Ps 89:1-14; Spr 26:17-19