Groei is ‘n pad wat mens stap

2024-11-21
Spreuke 4:18 NLV

Wanneer dit by groei kom, kom jy nooit by jou ‘bestemming’ uit nie. Dis nie ‘n plek wat jy bereik nie; dis ‘n pad wat jy stap. ‘Die pad van die regverdiges is soos die lig met dagbreek. Dit word al helderder tot die volle dag aanbreek.’

‘n Pastoor skryf: ‘Baie mense leer net deur probleme. Moeilike ervarings leer hulle lesse op die harde manier en hulle verander – soms tot voordeel, soms tot nadeel. Die lesse is willekeurig en moeilik. Dis baie beter om jou groei doelbewus te beplan. Jy besluit waar jy wil of wat jy nodig het om te groei, jy besluit wat jy wil leer en jy volhard met dissipline teen die pas wat jy gestel het. Dink wat dit is wat jy wil doen. Wie jy wil wees? Maak ‘n lys van dinge wat jou sal help om jou doelwit te bereik en daardie persoon te word. Is daar iets op daardie lys wat jy nou kan doen? Vandag? Doen dit dan. Of jy nou aangespoor voel of nie, dit is nou die tyd om te begin groei.

As jy nie reeds doelbewus groei nie, moet jy vandag begin. As jy dit nie doen nie, kan jy dalk sekere doelwitte bereik wat jy kan vier, maar jy sal uiteindelik ‘n plato bereik. Wanneer jy egter doelbewus begin groei, kan jy aanhou groei en aanhou vra: ‘Wat is volgende?’ Wanneer jy aktief na jou doelwit begin werk, sal jy vind dat die deur na persoonlike groei ‘n skrefie begin oopgaan. Deur daardie skrefie sal jy orals nog geleenthede vir groei begin sien. Jou wêreld sal vir jou begin oopgaan. Jy sal meer bereik. Jy sal meer leer. Ander geleenthede sal hulself begin voordoen.’

Sielskos: Pred 9-12; Joh 12:1-11; Ps 76; Spr 30:15-17

Beweeg na die regte omgewing

2024-06-19
Spreuke 13:20 NLV

Wat moet jy doen wanneer jy mense teëkom wat jou aanhoudend afkraak en ‘op jou plek’ probeer sit? Wees lief vir hulle, maar moet dit wat hulle sê jou nie te veel aantrek nie. As ‘n reël moet jy eerder gaan waar jy waardeer word as om te bly waar jy slegs verdra word!

Die Japanese bonsai-boom is piepklein en word omtrent net 45 sentimeter hoog. Om ‘n bonsai-boompie te maak, word ‘n jong boompie uit die grond getrek. Dan word die penwortel en van die voerlote afgebind. So word die groei van die bonsai-boom doelbewus belemmer. Daarenteen word die Kaliforniese sequoia-boom baie groot. Die General Sherman boom in Kalifornië se Sequoia Nasionale Park staan byvoorbeeld 83 meter hoog en meet 100 meter in die omtrek by sy stam. As dit afgekap word, sal dit genoeg hout om meer as 30 vyfvertrekhuise te bou, verskaf! Die sequoia begin lewe as ‘n klein saadjie, nie veel groter as die bonsai-saad nie.

Wat maak die verskil? Die sequoia boompie word toegelaat om in die ryk Kaliforniese grond en sonskyn gevoed te word. Die bonsai of die sequoia het nie ‘n keuse om te bepaal hoe groot dit sal word nie – maar jy het! Jy kan byvoorbeeld nie deur die lewe gaan deur ander mense – insluitend jou ouers – te blameer vir wat hulle in die verlede gedoen of nie gedoen het nie. Jou opsies is as volg: Bly waar jy is en kry swaar, of beweeg aan na ‘n ryk, vrugbare omgewing waar jy kan groei. Is dit altyd maklik om te doen? Nee. As jy egter glo wat Jesus gesê het: ‘…Ek het gekom sodat julle lewe kan hê, ja, om dit oorvloedig te hê’ (Johannes 10:10 NLV), sal jy gewillig wees om dit te doen.

Sielskos: Eseg 40:10-42:20; Luk 1:26-38; Ps 73:17-28; Spr 15:22-24

Stappe na vergifnis (2)

2023-03-25
Lukas 6:37 NLV

Hier is nog drie stappe na vergifnis: 1) Aanvaar mense soos hulle is en moet hulle nie probeer verander nie. Dit hou jou net aan hulle vasgeketting, terwyl jy jouself kwel oor wat hulle gedoen het en eis dat hulle op maniere wat jy goedkeur, moet optree. Niks maak mense minder gewillig om te verander as wanneer jy hulle probeer beheer en eis dat hulle aan jou vereistes moet voldoen nie. Om mense te verander is nie jou werk nie – dis God s’n! Jou werk is om te kies om te vergewe en die uitkoms in God se hande te los.

2) Sien jou oortreder as God se instrument vir jou groei. Dis makliker om iemand te vergewe wanneer jy ophou om hulle as Satan se agent wat gestuur is om jou te vernietig te sien en hulle as God se instrument om jou te ontwikkel, begin sien. Josef se lewe is ‘n sprekende bewys van hierdie beginsel. Die pad wat hom van die put tot die paleis geneem het, was met onreg, teleurstelling en verraad geteer. God het egter elke pynlike gebeurtenis gebruik om hom by sy lotsbestemming uit te bring. God kan dieselfde vir jou doen.

3) Probeer om met jou oortreder te versoen. Versoening is in God se aard. ‘Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is…’ (Romeine 5:10 AFR83). Wat God vir jou gedoen het, wil Hy hê moet jy aan die een wat teenoor jou oortree het, doen. Jesus het versoening ‘n hoofprioriteit gemaak deur te sê: ‘los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede… Kom dan terug en bring jou offer’ (Matteus 5:24 NLV). Ja, dit sal onbaatsugtigheid en nederigheid van jou kant af verg, maar die opbrengs is die belegging werd!

Sielskos: Job 24-28; Luk 21:1-11; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23

Dink hierdie jaar: ‘Dis moontlik’ (3)

2023-01-05
Genesis 37:9 NLV

Josef het twee drome gehad, waarvan die tweede een groter as die eerste een was. Sy eerste droom was ‘n landery vol gerwe; die tweede droom was ‘n hemelruim vol sterre. Die woord vir jou vandag is dus: Droom een maat groter! Henry Curtis het gesê: ‘Maak jou planne so fantasties as wat jy wil, want oor vyf-en-twintig jaar van nou af sal dit middelmatig lyk. Maak jou planne tien keer so groot as wat jy eers beplan het en vyf-en-twintig jaar van nou af sal jy wonder hoekom jy dit nie vyftig keer so groot gemaak het nie.’

Daar is net een manier om aan te hou groei: stel jou doelwit een tree verder as dit waarmee jy gemaklik is. Dit sal jou forseer om aan te hou groei! Dit sal jou ook instel om God vir groter dinge te glo. Die meeste mense wil hê hul lewens moet aanhou verbeter, maar tog waardeer hulle terselfdertyd vrede en stabiliteit. Hulle vergeet dat jy nie kan verbeter en steeds dieselfde bly nie. Groei beteken verandering en dit beteken dat jy die status quo moet uitdaag. Daar sal altyd mense rondom jou wees wat wil hê dat jy jou droom moet opgee en die status quo moet aanvaar. Wees lief vir hulle, maar moenie deur hulle gelei word nie.

Soos jy God vir groter dinge begin glo en ander mense probeer om koue water op jou idees te gooi, moet jy onthou dat op hierdie oomblik, terwyl jy hierdie bladsy lees, ander mense regoor die wêreld besig is om medisyne teen kanker uit te vind, nuwe energiebronne te ontwikkel, mense wat honger is te voed, mense se lewenskwaliteit te verbeter en hele nasies vir Christus te wen. Hulle daag die status quo uit – jy moet ook.

Sielskos: Jes 8-11; Luk 1:26-38; Ps 10:1-11; Spr 1:10-16

Monitor jou gedagtes (2)

2022-06-24
1 Korintiërs 2:16 NLV

Daar is ‘n natuurlike ingesteldheid en ‘n geestelike ingesteldheid. Om in oorwinning te lewe, moet jy ‘n geestelike ingesteldheid ontwikkel. ‘Mense wat nog in materiële terme dink, kan nie hierdie waarhede toe-eien wat van die Gees van God kom nie… Hulle kan dit nie verstaan nie, want hierdie dinge moet uit ‘n geestelike perspektief verstaan word… ons is ingestel om soos Christus te dink’ (1 Korintiërs 2:14, 16 NLV).

Soos jy jou lewe in ooreenstemming met God se Woord programmeer en jouself bewustelik daaraan onderwerp om elke dag sy wil te doen, sal Hy sy gedagtes in jou gedagtes plant. Wat ‘n voordeel! Byvoorbeeld: Iemand kritiseer jou en jou gevoelens word seergemaak. In daardie oomblik praat die Here met jou en sê: ‘Ja, jou gevoelens is seergemaak, maar ‘n deel daarvan is net gewonde ydelheid. Ek is lief vir jou ten spyte van al jou gemors. Jou posisie by My is nie in gevaar nie. Die persoon wat jou gekritiseer het, sien dalk ‘n fout raak. Maar dit is beter om nie te hoef voor te gee dat jy perfek is nie. Hier is ‘n kans om te groei. Gebruik dit!’

Selfs al is daar elemente van pyn in hierdie geestelike soort gedagtes, verlam dit jou nie, maar gee jou eerder energie. Dit is waar, dit gee jou grond om op te staan en jy besef dat indien jy jou gedagtes op hulle gefokus kan hou, sal die regte gevoelens en aksies meer geneig wees om daaruit te vloei. Nou begin jy die volgende belofte uitleef: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV).

In plaas daarvan om op jou kritici te fokus, fokus eerder op God, op jou geestelike groei en wat jy uit die ervaring kan leer.

Sielskos: Hosea 1-5; Matt 21:1-17; Ps 144:9-15; Spr 14:5-8