2026-06-01
Handelinge 6:4 NLV
In haar boek, 30 Days to a Stronger, More Confident You, gebruik die skrywer Deborah Smith Pegues die woord ‘PRAY’ as ‘n akroniem: “‘Pause’. Ek stop alle aktiwiteite en fokus heeltemal op God. Aanbidding verg totale fokus. Die grootste eer en respek wat ons aan enigiemand kan gee, is ons onverdeelde aandag.
‘Reverence’. Ek spreek my bewondering vir al God eienskappe uit. Op hierdie punt begin afleidings soos kakiebosse opduik. Ek sal skielik ‘n taak wat ek op my doenlysie moet sit, onthou. Ek het geleer om gou die taak in my Bybelstudiejoernaal neer te skryf en die ander kwessies te ignoreer vir dit wat hulle is – blote afleidings wat later hanteer kan word. Ek het ook geleer dat om hoorbaar te bid, my help om dwalende gedagtes hok te slaan.
‘Ask.’ Ek vra om vergifnis vir my sondes en probeer om spesifiek daaroor te wees. Ek bid vir die krag om ‘n Christelike lewe te lei en vra God om vir my ‘n passie vir sy Woord en vir gebed te gee. Ek vra dat sy wil in elke aspek van my lewe geskied: geestelik, fisies, finansieel, verhoudingsgewys, beroepsgewys en emosioneel.
‘Yield.’ Ek moet my versoeke aan God se soewereine wil onderwerp, met die vertroue dat Hy weet wat die beste vir my is. Daarom is ek versigtig om my gebed af te sluit deur te sê: ‘Laat nogtans nie my wil nie, Here, maar u wil geld’ (sien Lukas 22:42). Die ou gesegde dat dit nie is wat jy ken nie, maar wie jy ken wat jou die voordeel in ‘n situasie gee, is waar – veral vanuit ‘n geestelike perspektief. Wanneer ons ‘n verhouding met God het, verstaan ons dat Hy voldoende is om enige eise wat aan ons gestel word, te hanteer.”
Sielskos: Amos 1:1-5:17; Matt 14:13-21; Ps 117; Spr 14:9-12
2026-01-16
Genesis 2:22 NLV
‘Vader, toe Adam eensaam was, het U Eva gemaak en haar na hom toe gebring. Ek sukkel met eensaamheid en net soos U geweet het wat Adam nodig gehad het, so weet U ook wat ek nodig het. U het in u Woord gesê: ‘…Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie’ (Hebreërs 13:5 NLV). Daar is ‘n deel van my wat nooit deur enige verhouding behalwe deur een met U, bevredig of vervul kan word nie. U het my egter ook geskep om sosiaal te wees en interaksie met ander mense nodig te hê.
Help my om enige negatiewe gedrag van my kant af te erken en gedrag wat kan veroorsaak dat mense my nie geniet en aanvaar nie, soos om krities, afgunstig, humeurig, veroordelend of onvergewensgesind wees, te stop. Gee my asseblief wysheid sodat ek sal weet hoe om gepaste woorde op die regte tyd te gebruik. Maak asseblief my ore oop om met ware begrip na hulle te luister (sien Jesaja 50:4). Help my om skaamte en die vrees vir verwerping te oorkom en om na ander uit te reik in die geloof dat U tot hulle hart kan spreek en hulle oop en ontvanklik kan maak.
Leer my hoe om hulle liefde, hulp en vrygewigheid te aanvaar. Help my om te verstaan dat ek na my verhoudings moet omsien en nie net aandag aan vriende moet gee wanneer dit vir my gerieflik is nie. Help my om ‘n betroubare vriend te wees (sien Spreuke 18:24 NLV). U weet wat ek in ‘n verhouding nodig het. U het Dawid en Jonatan, en Rut en Naomi bymekaar gebring. Daarom vra ek U om my by die regte persoon of persone te voeg. In Jesus se naam. Amen.’
Sielskos: Dan 1-2; Luk 3:11-20; Ps 81; Spr 2:11-15
2024-01-19
Kolossense 4:2 NLV
Die woord ‘waaksaam’ verwys na die Ou Testamentiese gebruik om op ‘n stadsmuur te sit en wag te hou. Hierdie manne was die eerste mense wat gewapende magte of reisende handelaars sien aankom het. Hulle het die optimale uitkykpunt gehad. Hulle het gesien wat niemand anders kon sien nie. Hulle het alles vroeër as almal anders gesien.
Dit is presies wat gebeur wanneer ons bid. Ons sien wat niemand anders sien nie en ons sien dit vroeër as ander mense. Hoekom? Omdat gebed ons van God se oogpunt voorsien; dit verhoog ons bewustheid en gee ons ‘n sesde sintuig wat ons in staat stel om geestelike realiteite te kan waarneem.
In hulle bekende boek, Geeks and Geezers, maak die besigheidskenners Warren Bennis en Robert Thomas ‘n interessante opmerking oor wat suksesvolle leiers in elke veld in gemeen het. Bennis en Thomas noem hulle eersteklas waarnemers. ‘Wanneer jy ‘n eersteklas waarnemer is, stel dit jou in staat om talent te ontdek, geleenthede te identifiseer en struikelblokke te vermy. Leiers wat oor en oor sukses behaal begryp konteks meesterlik. Dis een van daardie karaktereienskappe, soos smaak, wat moeilik is om te ontleed. Die vermoë om ‘n reeks faktore te oorweeg, sommige so subtiel soos hoe verskillende groepe mense ‘n gebaar sal interpreteer, is een van die kenmerke van ‘n ware leier.’
Gebed verander ons in eersteklas waarnemers. Dit help ons om te sien wat God wil hê ons moet waarneem. Hoe meer jy bid, hoe meer neem jy waar. Hoe minder jy bid, hoe minder neem jy waar. Dis so eenvoudig soos dit. Hier is ‘n Bybelse formule vir sukses in enige area van die lewe: ‘Hou aan om te bid. Bid terwyl julle geestelik waaksaam en dankbaar is.’
Sielskos: Dan 3-4; Matt 7:1-14; Ps 84; Spr 2:16-19
2023-10-24
Jeremia 33:3 NLV
Lees die volgende: ‘Vra My, en Ek sal jou ‘n antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel. Dit is nou nog vir jou ‘n geheim, en jy weet niks daarvan nie.’ Wie het dit gesê? Die God van die heelal! Wat dink jy is jou kanse om die president of die eerste minister op die telefoon in die hande te kry? Niks! Tog kan jy ongeag jou opvoeding, gesofistikeerdheid, etniese agtergrond of finansiële status met God praat en Hy sal jou antwoord. Hy beloof ook nie net om jou gebede te beantwoord nie, maar om jou ongelooflike dinge te vertel waarvan jy niks weet nie.
Soms sê ons: ‘Dis die dinge wat ek nie weet nie wat my bang maak.’ Besighede sluit en werkers word afgelê. Roetine mediese ondersoeke openbaar lewensbedreigende uitdagings. Terroriste bedreig ons veiligheid en politici verraai ons vertroue in hulle. Die klein seuntjie het gebid: ‘Here, seën asseblief vir Mamma, Pappa, bababoetie en vir my. Here, kyk ook asseblief mooi na Uself, want as iets met U gebeur, is ons almal in die moeilikheid!’
Jy sê: ‘Maar ek is nie seker of God al ooit met my gepraat het nie.’ Jy moet egter met Hom praat en toelaat dat Hy deur sy Woord en sy inwonende Gees met jou praat. Soms wag God voor Hy jou antwoord omdat Hy op twee plekke gelyk werk. Hy werk aan die probleem waaroor jy gebid het en Hy werk om jou daarvoor gereed te kry. Soms neem die tweede gedeelte langer as die eerste. Soos die bekende gesang lui: ‘O what peace we often forfeit, O what needless pain we bear, All because we do not carry everything to God in prayer!’
Sielskos: 2 Sam 22:31-24:25; Joh 6:1-15; Ps 126; Spr 24:10
2023-10-20
Eksodus 32:13 NLV
As jy nie seker is of jou gebede die situasie waarin jy jou tans bevind kan verander nie, lees die verhaal van Moses wat by God intree om nie die Israeliete weens die goue kalf en afgodery te vernietig nie. ‘Maar Moses het by die Here gepleit om dit nie te doen nie… Onthou tog dat U ‘n ooreenkoms gesluit het met u dienaars Abraham, Isak en Jakob. U het vir hulle belowe: ‘Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre in die lug. Ek sal hierdie land vir julle nageslag gee om vir altyd in te woon.’ Die Here het toe afgesien van die ramp wat Hy oor sy volk wou bring’ (verse 11, 13-14 NLV).
Moses was op sy knieë vir sy volk se lewens, hy het sy vinger gewys, sy hande opgelig, trane gehuil, sy mantel geskeur en soos Jakob by die spruit, gestoei. Let op hoe hy gebid het. Hy het God aan sy verbondsbeloftes herinner. Hy het op die Woord gestaan! As daar een ding is wat God se aandag sal trek en Hom aan jou behoeftes sal laat voldoen, is dit om op sy Woord te staan.
God se woord oor die saak is altyd sy wil in die saak. ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (1 Johannes 5:14-15 NLV).
Jy is soos ‘n elektriese draad waardeur God se krag en teenwoordigheid in enige situasie kan vloei en deur gebed skakel jy die skakelaar aan. In plaas daarvan om dus oor die situasie te kla, begin daaroor bid.
Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Joh 5:1-15; Ps 41; Spr 24:5-6