Strewe na uitnemendheid (2)

2021-08-24
Filippense 1:10 DB

Uitnemendheid verg twee dinge: ekstra tyd en ekstra inspanning. Dit beteken dat jy meer doen as wat ander mense van jou verwag, omdat jy dit as ‘n saak van karakter en integriteit sien. Ons praat nie hier van die strewe na perfeksie nie. Dit kan jou en almal rondom jou mal maak. Perfeksionisme word in selfgesentreerdheid gebaseer. Dit soek goedkeuring en applous.

Jou doel moet wees om elke opdrag of taak te doen asof God dit self van jou verwag en jou optrede sal evalueer en beloon. Die ou gesegde: ‘Uit die oog, uit die hart,’ is nie op God van toepassing nie; Hy let op elke aktiwiteit wat jy doen. ‘Pak alles gemotiveerd aan. Werk soos vir die Here en nie soos vir mense nie. Weet dat die Here julle met ‘n erfdeel sal beloon. Die Eienaar vir wie julle werk, is Christus!’ (Kolossense 3:23-24 NLV). Dit beteken dat jy die beste moontlike werk doen, selfs wanneer die baas nie in die omtrek is nie.

Nog ‘n belangrike punt is om mense te vermy wat slegte werksgewoontes het of op jou pogings om uitnemend te wees, neersien. Wil jy regtig soos hulle wees? Bereik jy die resultate in die lewe wat jy vir jouself begeer? As God jou hemelse Vader is, dan dra jy sy naam: ‘Here, ons Here, hoe vol majesteit is u Naam oor die hele aarde!..’ (Psalm 8:2 NLV).

Bid vandag: ‘Here, gee my die begeerte om uitnemend in al my aktiwiteite te wees. Help my om met die konstante bewustheid van u evaluerende en liefdevolle oog te leef, sodat ek alles vir U en nie vir mense nie, sal doen. In Jesus se naam bid ek dit, amen.’

Sielskos: Klaag 3:40-5:22; Luk 17:1-10; Ps 119:129-136; Spr 18:21