Strewe na uitnemendheid (1)
2021-08-23Daniël 5:14 NLV
Selfs al was Daniël ‘n gevangene, het hy geweier om middelmatigheid te aanvaar. Dit het hom onder die aandag van die koning van Babel gebring wat gesê het: ‘Ek hoor dat die gode in jou woon en dat jy besondere insig, begrip en wysheid het.’ Wat ‘n wonderlike reputasie! En wat ‘n berisping vir diegene van ons wat maar net aanploeter. Die Bybel sê: ‘Sien jy iemand wat bedrewe is in sy beroep? Hy werk vir konings en nie vir gewone mense nie’ (Spreuke 22:29 NLV).
Die manier om aandag in die lewe te trek en vooruit te beweeg, is om te studeer, te groei en jou vaardighede op te knap. Het jy ‘n middelmatige houding teenoor jou werk, jou verhoudings en die lewe oor die algemeen? Indien dit die geval is, oorweeg bietjie die vlakke van frustrasie wat jy sou ervaar as die mense wat jou moet bedien, so ‘n houding gehad het. Wat as die kelner koue kos en jou drankie in ‘n vuil glas vir jou bedien het? Sou jy daaroor gekla het? Dink dan hoe mense voel wanneer jy hulle slordige vakmanskap en ‘n ‘kan-nie-minder-omgee’ houding gee nie.
Daar word gesê dat uitnemendheid sy eie beloning is. Ja, jy sal vir uitnemendheid beloon word, maar jou grootste beloning sal kom uit die wete dat jy jou beste gedoen het. Aristotel het gesê: ‘Ons is wat ons herhaaldelik doen. Uitnemendheid is dus nie ‘n daad nie, maar ‘n gewoonte.’ Kyk na die lewens van mense wat in hulle veld uitblink. Bestudeer hulle gewoontes en leer van hulle. Identifiseer hulle karaktereienskappe en strewe daarna om dit te ontwikkel. Eers wanneer jy jou beste gedoen het, kan jy op God vertrou om die res te doen.
Sielskos: Klaag 1:1-3:39; Luk 16:19-31; Ps 119:121-128; Spr 18:13-20