Strewe na intimiteit in jou huwelik

2019-07-27
1 Korintiës 7:39 DB

Die Bybel leer ons dat die basis vir ‘n goeie huwelik nie net daarin lê om elke aand dieselfde bed te deel nie, maar om elke dag dieselfde waardes en doelwitte te deel. Daar sonder, sal dit wees soos om met mekaar in ‘n vreemde taal te praat. Julle sal wel nie altyd saamstem nie, en dit moet jy aanvaar. As julle egter dieselfde bestemming wil bereik, moet julle dieselfde padkaart volg. Soos wanneer jy ‘n huis bou, moet julle van dieselfde bloudruk af werk waarop julle vooraf ooreengekom het. Na ‘n ruk ontdek jy dat fisiese intimiteit alleenlik nie genoeg is nie. Dit mag jou dalk deur die nag kry, maar dit verg ware vriendskap en ‘n gedeelde geloof in God om jou deur die jare te kry. Ons praat van mans en vrouens wat sonder om ‘n woord te sê kommunikeer, omdat dieselfde doelwitte en beginsels hulle lewens regeer. Wanneer probleme opduik, soos dit altyd doen, soek hulle oplossings by dieselfde bron – God. Toe die lewe vir Adam en Eva in die Tuin van Eden uitmekaar geval het, het hulle saam na God gegaan, omdat hulle altwee ‘n verhouding met Hom gehad het. Buitendien, hoe sal jy ‘n probleem kan korrigeer as een van julle nie dink dat daar ‘n probleem is nie? Ware intimiteit kom wanneer die seks verby is en die toewyding aan mekaar sterker as ooit is. Dit laat jou toe om by iemand te wees sonder om altyd te voel dat jy hom of haar moet beïndruk. ‘n Skrywer stel dit so: ‘Wanneer ons weet dat ons geliefd is oor wie ons is, word ons gedagtes gesonder en meer intiem in uitdrukking. Ons word van die vrees van verwerping bevry.’

Sielskos: Deut 11-13; Matt 12:38-50; Ps 78:17-31; Spr 16:26-30