Strewe na integriteit

2022-04-27
Spreuke 11:3 NLV

Jesus het gesê: ‘…jy moet jou naaste liefhê soos jouself’ (Matteus 19:19 NLV). Om jouself te kan liefhê, moet jy egter eers jouself kan respekteer. Selfrespek word op persoonlike integriteit gebaseer.

Die skrywer Ted Engstrom vertel die volgende verhaal in sy boek getiteld Integrity: ‘Vir afrigter Cleveland Stroud en die Bulldogs van die Rockdale County Hoërskool (Conyers, Georgia), was dit hul beste kampioenskapseisoen: een-en-twintig oorwinnings en vyf verliese op pad na die Georgia Boys-basketbaltoernooi verlede Maart. Nou staan die nuwe trofeekas buite die hoërskool se gimnasium egter leeg. Vroeër hierdie maand het die Georgia Hoërskool Assosiasie die kampioenskap van Rockdale County ontneem nadat skoolamptenare gesê het dat ‘n speler wat akademies nie in aanmerking gekom het om deel van die span te wees nie, vyf en veertig sekondes in die eerste van die skool se vyf na-seisoen wedstryde, gespeel het. ‘Ons het nie geweet dat hy nie in aanmerking kom nie; ons het dit eers ‘n paar weke gelede uitgevind,’ het afrigter Stroud gesê. ‘Sommige mense het gesê ons moes net daaroor geswyg het, dat dit net vyf-en-veertig sekondes was en dat die speler nie ‘n impakspeler was nie. Maar mens moet doen wat eerlik en reg is en wat die reëls sê. Ek het vir my span gesê dat mense die tellings van basketbalwedstryde vergeet; hulle vergeet egter nooit waarvan jy gemaak is nie.’

Elke eerlike of oneerlike woord en daad voeg of by jou karakter by, of neem daarvan weg. Dis wat die Bybel bedoel met die volgende: ‘Die opregtheid van eerlike mense wys vir hulle die koers. Die valsheid van onbetroubare mense bring hulle ondergang.’ Strewe vandag na integriteit in al jou aksies.

Sielskos: Dan 5-7; Matt 2:13-23; Ps 7:10-17; Spr 10:17-18