Stel gesonde grense vir jouself

2021-02-18
Spreuke 25:28 NLV

‘n Christelike leier skryf: ‘Die Groot Muur van China is in die derde eeu NC as verdediging teen strooptogte van die nomadiese volke uit die noorde opgerig. Dwarsdeur die daaropvolgende eeue, veral gedurende die Ming Dinastie (1368 – 1644), is die Groot Muur herstel en uitgebrei totdat dit uiteindelik vyf-en-veertig myl lank gestrek het.’ Eeue voor die oprigting daarvan, het Bybelse volke mure gebruik om hulself te beskerm en om grense rondom hulle op te rig, om sodoende die land wat aan hulle behoort het, te kon identifiseer. Om effektief te wees, moes die mure egter gereeld onderhou word. Die kleinste gat kon die vyand ‘n noodlottige voordeel gee. Daar is ‘n waardevolle les hieruit te leer.

As ‘n Christen, is daar een muur in jou verdedigingsisteem wat ten alle tye onderhou en beskerm moet word – die muur van selfbeheersing. Die Bybel sê: ‘Iemand wat homself nie in bedwang kan hou nie, is soos ‘n stad sonder ‘n muur wat beskerming bied.’ Jou versuim om selfbeheersing te handhaaf, is soos om die hekke van die stad oop te maak en vir die Duiwel ‘n uitnodiging te stuur om jou aan te val.

J. Wilbur Chapman, een van grootste predikers in die geskiedenis, het ‘n reël wat hy ‘My reël vir ‘n Christelike lewenstyl’ genoem het, geformuleer. Dis ‘n reël wat jy in jou lewe moet nastreef. Hy het gesê: ‘Die reël wat my lewe regeer is as volg: Enigiets wat my visie vir Christus aantas, of my lus vir Bybelstudie wegneem, of my gebedslewe inperk, of Christelike werk moeilik maak, is verkeerd vir my en ek moet, as Christen, daarvan af wegdraai.’ Vraag: Is jou verdedigingsmure geskend of het dit vervalle geraak? Indien so, doen vandag iets daaraan.

Sielskos: Gen 4-6; Matt 15:29-39; Ps 33:1-12; Spr 5:7-14