Spreek woorde van genesing

2022-01-28
Job 16:5 NLV

Selfs wanneer ‘n operasie suksesvol is, kan die pasiënt letsels oorhou wat pyn en ongemak veroorsaak. Dis dieselfde in die lewe. Sommige mense rondom jou dra ‘n masker van sukses, maar binne-in hulle dra hulle wonde waaroor hulle nie in staat is om te praat nie. Die komediant Jonathan Winters het in ‘n onderhoud gesê dat sy lewe deur die wrede dinge wat sy ouers vir hom as kind gesê het, verwond is. ‘Ek is nie ‘n tjankbalie nie, maar ek onthou dinge tot die fynste detail – daar is baie pyn daar.’ Sy pa het vir hom gesê: ‘Jy is die domste kind wat ek ken.’

Toe hy by die vloot aangesluit het en gedurende die Tweede Wêreldoorlog na die Suid-Stille Oseaan reis, het hy geen ondersteuning van sy ma gekry nie. Toe hy tuiskom, het hy ontdek dat sy al sy spesiale, persoonlike besittings wat hy in die solder gestoor het, weggegee het. Hy was ontsteld, maar haar reaksie was: ‘Hoe moes ons weet jy gaan dit oorleef?’ Winters het aangegaan om een van die wêreld se voorste komediante te word, maar die emosionele littekens het agtergebly.

Verstaan die volgende – jou woorde kan wonde of genesing meebring. Dit kan iemand inspireer of hulle sin van mislukking en waardeloosheid versterk. Job, wat meer verlies gely het as wat die meeste van ons ooit sal weet, het gesê: ‘Ek sou eerder iets sê wat julle kon help. Ek sou probeer om julle hartseer te verlig’ (vers 5 NLV). Hoe kan jy iemand wat seer het help? Deur jou opinie te lug? Nee, deur vir hulle die enigste opinie wat saak maak te gee – God s’n! Dis wat God te sê het: ‘…Ek het jou lief met ‘n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe’ (Jeremia 31:3 NLV).

Sielskos: Rom 1:32-3:20; Luk 6:27-36; Ps 107:1-9; Spr 3:13-18