Spreek lewe tot hul gees (1)

2022-01-29
2 Korintiërs 5:16 NLV

Paulus skryf: ‘Van nou af beoordeel ons niemand meer volgens ‘n menslike maatstaf nie… iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’ (verse 16-17 NLV).

Hier is ‘n belangrike geestelike beginsel ter sprake. Wanneer jy probeer om ‘n gelowige te help wat teen teëspoed, verslawing of liggaamlike lyding stry, moet jy lewe tot hulle wedergebore gees spreek. Spreek tot die deel van hulle wat in staat is om in geloof op te staan en op God se Woord te reageer: ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus’ (Romeine 10:17 NLV).

Waaruit kom geloof? Deur te hoor wat God dink, sê en kan doen. God het vir Esegiël opdrag gegee om in ‘n vallei vol droë bene te staan en te sê: “So sê die oppermagtige Here: ‘Kyk, Ek gaan in julle blaas en julle weer lewend maak!'” (Esegiël 37:5 NLV). Raai wat? Dit het gebeur! Esegiël het gesê: ‘…Skielik was daar ‘n gedreun terwyl ek praat. Die bene van elke liggaam het bymekaargekom’ (vers 7 NLV). Kom ons wees duidelik; jy kan nie aan ‘n geliefde vashou wanneer God in sy soewereine wysheid besluit dat dit tyd is om hulle hemel toe te neem nie, wat Paulus as ‘…verreweg die beste’ (Filippense 1:23 NLV), beskryf.

Totdat dit egter gebeur, spreek God se Woord tot hul wedergebore gees. Geloof ontken nie die realiteit van die omstandighede nie, maar dit weier om daardeur geïntimideer, beperk of oorheers te word. Wanneer iemand dus ‘n verloste kind van God is, moenie tot hulle menslike intellek spreek nie – spreek lewe tot hul gees.

Sielskos: Rom 3:21-6:23; Luk 6:37-49; Ps 107:10-16; Spr 3:19-20