Spandeer meer tyd in gebed
2019-07-181 Kronieke 16:11 NLV
In Catherine Marshal se boek, A Closer Walk, skryf haar man Leonard LeSourd oor die begin van hulle huwelik. ‘Catherine het groot aanpassings gehad om te maak. Sy het haar droomhuis in Washington verkoop en na Chappaqua getrek, sodat ek kon aanhou om na my werk in New York te pendel. My kinders – Linda, tien; Chester, ses; Jeffrey, drie – is deur ‘n paar ontstellende jare waar hulle aan ‘n verskeidenheid huishoudsters gewoond moes raak. Hulle het gemengde gevoelens gehad om na ‘n nuwe huis toe te trek en veral teenoor ‘die nuwe ma wat Pappa gaan huis toe bring.’ Catherine se seun, Peter, wat negentien was, was besig om deur ‘n rebelse tyd by Yale Universiteit te gaan. Catherine en ek het so baie dinge gehad om oor te bid dat ons begin het om ‘n uur vroeër in die oggende op te staan om die Bybel te lees en saam antwoorde te soek. Haar dagboek het langs ons oop gelê in daardie tye wat ons voor sonsopkoms gebid het, waarin sy ons veranderende behoeftes en God se onveranderlike getrouheid neergeskryf het.’ Soos die lewensdruk meer word, moet jy meer bid, nie minder nie. Jesus het voor sonop opgestaan om te bid. Soms het Hy deurnag gebid. Ander kere het Hy die eise van die skare agtergelaat om te gaan bid. Hoekom? Omdat jou krag, vrede, vreugde en effektiwiteit direk aan die tyd wat jy in gebed spandeer, gekoppel is. Hoekom bid ons dan nie daagliks nie? Vir dieselfde rede wat mense by ‘n gym in Januarie aansluit en teen Februarie nie meer gaan nie. Gebed verg dissipline wat slegs jy in plek kan stel. Dit bring egter groot belonings mee.
Sielskos: Hand 20-21; Matt 10:21-31; Ps 14; Spr 16:6-7