Soek donkies – en ontdek jou lewensdoelwit (1)

2020-06-01
1 Samuel 10:1 NLV

Hier is ‘n wonderbaarlike verhaal oor hoe Saul Israel se eerste koning geword het. Hy was in die veld besig om sy pa se verlore donkies te soek, toe hy die profeet Samuel raakgeloop het. “Toe hulle buite die dorp kom, sê Samuel vir [Saul]: ‘Gee die jong man opdrag om vooruit te loop, maar jy moet hier bly staan, want ek het ‘n boodskap van God vir jou.’ Samuel neem toe ‘n kruik met olie, gooi dit op Saul se kop uit, soen hom en sê: ‘Die Here het jou gesalf as leier oor sy besitting'” (1 Samuel 9:27 – 10:1 NLV). Dink daaroor – Saul het na donkies gaan soek – en sy lewensdoelwit ontdek! Dit kan ook met jou gebeur! God het ‘n gewoonte om mense te roep wat besig is om ander dinge te doen. Jakobus en Johannes was besig om hulle nette reg te maak, Matteus het tolgeld ingesamel, Elisa was besig om te boer en Saul was na sy pa se verlore donkies op soek. Dit was net nog ‘n werksdag. Wanneer God egter ‘n doel vir jou en ‘n dag op sy kalender met jou naam op het, sal Hy jou kom kry. Jy sê: ‘Maar ek is niemand spesiaals nie!’ Dis wat Saul ook gesê het: ‘…Ek is maar net ‘n Benjaminiet, die kleinste stam van Israel. My familie is boonop die geringste van al die families van ons stam!..’ (1 Samuel 9:21 NLV). Jou sosiale status beperk God nie. Wanneer Hy ‘n plan vir jou in gedagte het, sal Hy na die agtergrond toe reik en jou na die voorgrond toe bring. Bly dus getrou, hou aan om Hom te dien en jou tyd sal kom!

Sielskos: 1 Kon 12-13; Mark 13:12-23; Ps 117; Spr 12:20-22