‘So soet soos lekkers’
2021-03-13Spreuke 18:8 NLV
Skinderstories kan ‘so soet soos lekkers’ wees, wat moeilik is om te weerstaan. Wat is dus die oplossing? Keer jouself voor jy toegee daaraan! Vra jouself af hoekom jy besluit het om die draer van slegte nuus te wees. Is dit die enigste manier om kameraadskap met ander te bewerkstellig? Geniet jy dit om die middelpunt van aandag te wees? Laat dit jou meerderwaardig voel om iets negatiefs van iemand te weet? Is jy jaloers op die onderwerp van die storie se prestasies? Hoekom is jy gewillig om die tempel van God as ‘n ‘asblik’ te gebruik deur skinderstories aan te hoor? (sien 1 KorintiĆ«rs 6:19). Wat beplan jy om met die skinderstorie wat jy gehoor het te doen? Is jy verveeld en het meer bevredigende aktiwiteite nodig?
Mense wat weet wat hulle Godgegewe lewensdoel is en daaraan toegewyd is om dit te vervul, het nie tyd vir skinderstories nie. As jy dus ernstig is om dit uit jou lewe te elimineer, moet jy oorlog daarteen maak. Laat almal weet dat jy nie meer soet lekkers gaan aandra of aanhoor nie. Verklaar dat jou omgewing by die werk, by die huis, by die kerk of in jou vrye tyd ‘n ‘skinder-vrye sone’ is en wend elke poging aan om skindertonge te vermy. Salomo skryf: ‘Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit. Bly weg van iemand wat alte maklik praat’ (Spreuke 20:19 NLV).
Wanneer jy jou tong as ‘n instrument van geregtigheid gebruik, styg jou aandele in die hemel. Jy sal in staat wees om nederig, met volkome afhanklikheid aan die Vader, te verklaar: ‘Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees, Here, my rots en my Verlosser’ (Psalm 19:15 NLV). Moenie skinder nie!
Sielskos: Job 5-7; Matt 22:34-46; Ps 26; Spr 7:26-27