Sluit jouself by God toe

2023-06-17
Psalm 42:2 NLV

Vind jy dit moeilik om God se werke te verstaan? Ons almal sukkel daarmee. Selfs al kan ons terugkyk en sien hoe sy hand van seën en leiding in die verlede op ons was, voel ons by tye steeds bang en alleen. Jesus het self uitgeroep: ‘…My God, my God, waarom het U My verlaat?’ (Matteus 27:46 NLV). Daardie woorde kan as volg geïnterpreteer word: ‘Ek mag dalk nie verstaan wat op die oomblik gebeur nie, maar ek weet dat U steeds my God is.’ Wat ‘n gerusstelling!

Het jy al ooit gesien hoe ‘n kind ‘n ouer se hand vat en sê: ‘Ma/Pa stap te vinnig vir my!’ Die kind is bang om te verdwaal of agtergelaat te word. Is dit hoe jy vandag voel? Asof jy nie kan byhou nie? Dat die lewe heeltemal te vinnig beweeg? Die Bybel sê: ‘Soos ‘n wildsbok smag na water, so smag ek na U, o God’ (Psalm 42:2 NLV). Jy ‘smag’ nie na iets tensy jy dit waardeer en dit nodig het nie. Slegs rou behoefte sal veroorsaak dat jy van elke ander sigbare middel van ondersteuning wegdraai en God najaag, omdat jy weet dat jy dit nie sonder Hom sal maak nie.

Drie dinge gebeur wanneer jy God met jou hele hart najaag:
1) Jy betree die koninkryk waar alle dinge moontlik is (sien Markus 10:27 NVL).
2) Jy begin om meer soos Christus te wees, omdat jy soos die geselskap wat jy hou, word (sien 2 Korintiërs 3:18).
3) Jy leer dat jy slegs sekere vlakke van seën bereik wanneer jy God ywerig soek (sien Hebreërs 11:6).

Is jy moeg vir menslike antwoorde? Het jy meer as net goeie raad nodig? Sluit jouself vandag by God toe en laat Hom toe om met jou te praat.

Sielskos: Hand 1:1-3:10; Matt 26:36-46; Ps 118:19-29; Spr 15:33