Sluit Jesus in by alles wat jy doen
2024-08-09Lukas 2:44 NLV
Die Bybel sê: ‘Elke jaar het Jesus se ouers Jerusalem toe gegaan vir die Paasfees. Toe Jesus twaalf jaar oud was, het hulle soos gewoonlik die fees bygewoon. Ná die feesviering het hulle na Nasaret vertrek, maar Jesus het agtergebly. Sy ouers het Hom nie eers vermis nie omdat hulle gedink het Hy was by ander vriende in die reisgeselskap. Maar toe Hy die aand nog nie sy opwagting gemaak het nie, het hulle by familie en vriende na Hom begin soek. Toe hulle Hom nie kon kry nie, is hulle terug na Jerusalem om daar na Hom te soek. Drie dae later het hulle Hom uiteindelik gekry. Hy het in die tempel tussen die leermeesters gesit en diepgaande vraagstukke met hulle bespreek. Almal wat na Hom geluister het, was verbaas oor sy insig en antwoorde’ (verse 41-47 NLV).
Sy ouers het ‘n hele dag ver gereis voor hulle agtergekom het Hy was nie by hulle nie! Toe het dit hulle nog drie dae geneem om Hom te vind! Hier is ‘n les hieruit te leer. Dis makliker om daardie spesiale aanvoeling van God se teenwoordigheid te verloor, as om dit terug te kry wanneer jy dit verloor het. Dis maklik om af te dwaal en jou eie ding te doen, onbewus daarvan dat jy nie die Here in jou dag ingesluit het of die tyd geneem het om Hom oor jou planne te raadpleeg nie.
Die manier om ‘n aanvoeling vir God se teenwoordigheid te handhaaf, is om Hom doelbewus by alles wat jy doen te betrek. Jesus het beloof: ‘…As iemand My liefhet, sal hy my boodskap gehoorsaam uitvoer; en my Vader sal hom ook liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom tuisgaan’ (Johannes 14:23 NLV).
Sielskos: 1 Kro 6:1-7:19; Luk 12:1-12; Ps 119:9-16; Spr 20:19-21