Sleutels tot gebede wat beantwoord word (3)

2022-06-07
Jakobus 4:3 NLV

Regte motiewe. Die rede hoekom jy bid is baie belangriker as die woorde wat jy sê. Om ‘n rein hart te hê wat vir God en ander mense lief is, is altyd vir die Here aanvaarbaar. Selfsug, weerwraak, manipulasie, beheer, jaloesie, trots en om te bid om die lotery te wen, is aan die ander kant onaanvaarbaar. Enigiets wat op selfsug gebaseer is, is inderwaarheid ‘n onaanvaarbare motief.

Iemand het een keer vir ‘n klein seuntjie gevra of hy elke aand sy gebedjie opsê. Hy het vir ‘n oomblik daaroor gedink en geantwoord: ‘Nee, party aande het ek niks nodig nie.’ Klink dit bekend? Die hoofsaaklike en eerste rede om te bid, is om ‘n intieme verhouding met God te ontwikkel. Dink daaroor: Hoe lank dink jy sal jou huwelik hou as jy slegs huis toe kom om jou eggenoot te sien wanneer jy skoon klere, ‘n goeie maaltyd en ‘n bietjie liefde nodig het? Nie lank nie, né? Dieselfde beginsel is op gebed van toepassing.

Jesus het gesê: ‘As julle aan My verbind bly en my woorde ‘n stewige vastrapplek in julle gekry het, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry’ (Johannes 15:7 NLV). Wanneer jy daarop fokus om aan Christus ‘verbonde’ te bly, sal jy ‘n reaksie op dit wat jy vra, kry. Jakobus skryf: ‘En selfs wanneer julle vra, kry julle dit nie omdat julle motiewe verkeerd is…’

Die waarheid is dat ons natuurlik selfgesentreerd van aard is. Dis hoekom ons ons harte op ‘n gereelde basis moet reining – en dit verg dat ons ons beweegredes moet ondersoek. Dit mag dalk aan die begin pynlik wees, maar jy moet dit egter doen as jy wil hê dat jou gebede beantwoord moet word.

Sielskos: 1 Kon 21-22; Matt 15:1-14; Ps 124; Spr 12:26