Sit of dien?
2019-04-29Lukas 22:27 NLV
Die wêreld vereer rykdom, mag, talent en roem. Soms sien dit diensbaarheid as minderwaardig. Jesus het egter ‘n ander maatstok gebruik toe Hy vir sy dissipels gevra het: ‘Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is of die een wat bedien?..’ Hy het die vraag as volg beantwoord: ‘…Ek is egter in julle midde soos een wat dien.’ Paulus het gesê dat Jesus alles prysgegee het: ‘Hy het Homself verneder en Hy het geword soos ‘n slaaf, Hy het ‘n mens geword soos ons….’ (Filippense 2:7 NLV). Ons as Christene hou daarvan om onsself diensknegte te noem, maar hoe reageer jy as jy soos een behandel word? In die bovertrek het al die dissipels ‘n prominente sitplek gesoek, maar Jesus ‘n plek om te dien! Soos hulle gewag het om bedien te word, het Jesus ‘n waskom geneem en hulle vuil, eelterige voete gewas. Kan jy jou indink hoe hulle gevoel het? Die wêreld baseer belangrikheid op die aantal mense wat jou dien, maar God is meer geïnteresseerd in die aantal mense wie jy dien. Hy eer diegene wat onbaatsugtig, sonder om te kla of erkenning te soek, dien. Die waarheid is dat dit meer karakter verg om ander mense te dien as om rond te sit en te wag om bedien te word. Hier is dus die vraag: Sit jy deesdae meer as wat jy dien? As dit die geval is, is dit tyd om God vir ‘n onbaatsugtige gees en ‘n dienaar se hart te vra; en op soek te wees vir geleenthede om te dien waar Hy jou ook al plaas. Hoekom? Omdat Jesus gelewe het om te dien en sy Woord aan jou is: ‘…’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie…’ (Johannes 15:20 NLV).
Sielskos: Num 14-15; Mark 3:1-6; Ps 37:1-7; Spr 11:1-2