Sien jouself soos God jou sien

2019-02-20
Numeri 13:33 NLV

Tien van Israel se twaalf spioene het van die Beloofde Land teruggekeer en gesê, ‘Ons het Enak se nageslag daar gesien. Hulle is reuse. Ons het vir hulle soos sprinkane gelyk.’ Die ander twee spioene, Josua en Kaleb, het dieselfde reuse gesien, maar geglo dat hulle met God se hulp verslaan kon word: ‘…Laat ons optrek en die land gaan oorneem. Ons is daartoe in staat’ (vers 30 NLV). God het ‘n plan vir jou lewe, maar jy sal dit nooit vervul tensy jy in ooreenstemming met sy Woord kom nie. ‘Maar ek het so baie probleme,’ sê jy. Paulus het gesê: ‘Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het!’ (Filippense 3:12 NLV). Wanneer God onvolmaakte mense gebruik, besef ons dat Hy alleenlik ons bron, ons krag, ons strategie en die geheim tot ons sukses, is. Die Bybel sê: ‘Hierdie Goddelike ‘dwaasheid’ is oneindig wyser as enige menslike wysheid en hierdie Goddelike ‘swakheid’ is oneindig sterker as enige menslike kragsvertoon’ (1 Korintiërs 1:25 NLV). Jy het ‘n doel wat deur God bepaal is en geen verskoning om dit nie te vervul nie. Jy kan nie jou swakheid as verweer gebruik nie, want God sê, ‘…my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking…’ (2 Korintiërs 12:9 NLV). Jy kan nie jou verlede as ‘n verskoning gebruik nie, want God sê: ‘…Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’ (2 Korintiërs 5:17 NLV). Hoe God jou sien is nie die probleem nie; dis hoe jy jouself sien wat jou weerhou om sukses te behaal! Vra dus vir God om vir jou nuwe insig te gee oor hoe Hy jou sien – geliefd, geregverdig, geseënd en bevoorreg!

Sielskos: Gen 47-49; Luk 11:1-13; Ps 36; Spr 5:21-23