Sien jouself as waardevol (2)

2025-03-13
Jesaja 43:4 NLV

As jy ‘n 10 wil wees, maar jou selfbeeld is ‘n 5, sal jou nooit die vlak van ‘n 10 bereik nie. Jy sal ‘n 5 of laer bereik. Jy kan nie die beeld wat jy van jouself het oortref nie. ‘n Lae selfbeeld plaas ‘n beperking op jou potensiaal. Waar kom ons lae selfbeeld vandaan? Van ander mense. Wanneer die belangrikste mense in jou lewe herhaaldelik vir jou sê dat hulle verwag dat jy nêrens gaan kom of niks waardevols gaan bereik nie, is dit wat jy uiteindelik van jouself begin glo. Dis soos om ‘n virus op jou rekenaar af te laai; dit vernietig jou Godgegewe potensiaal.

Wat is dan die antwoord? In plaas daarvan om dit wat ander mense van jou sê te glo, vind uit wat God van jou sê. Wie ken immers die waarde en potensiaal van ‘n produk beter as die vervaardiger wat dit gemaak het? Toe God vir Jeremia geroep het om ‘n profeet vir die volk Israel te wees, het Jeremia gesê: ‘…ek kan nie goed praat nie. Ek is ook te jonk!’ (Jeremia 1:6 NLV). Miskien kan jy met Jeremia identifiseer: ‘Ek is te jonk, of te oud, of nie die regte nasionaliteit nie, of nie opgevoed genoeg nie, of nie ryk genoeg nie.’ Let op wat God vir Jeremia geantwoord het: ‘Moenie sê jy is te jonk nie. Gaan na die mense waarheen Ek jou stuur en gee my boodskap vir hulle. Jy moet ook nie bang wees vir hulle nie. Ek sal by jou wees en jou beskerm!’ (verse 7-8 NLV).

Om jou selfbeeld te verander, beteken dat jy die manier wat jy met jouself praat moet verander. Om jouself as waardevol te sien, moet jy jouself begin sien soos God jou sien.

Sielskos: Job 11-14; Luk 17:11-19; Ps 11; Spr 8:4-5