Seën op jou werk (4)

2022-08-23
Spreuke 10:2 NLV

Om seën op jou werk te kry, moet jy die volgende beoefen: Eerlikheid. Dis dwaas om te steel, selfs al word jy nooit betrap nie. ‘Goed wat onwettig verkry is, bring geen blywende voordeel nie…’ Jy mag dalk steel en daarmee wegkom, maar jy sal nie daarby baat vind nie. ‘Rykdom wat maklik kom, verdwyn net so maklik…’ (Spreuke 13:11 NLV). Nie net sal jy moeilikheid kry nie, jy sal ook moeilikheid oor diegene wat vir jou lief is en van jou afhanklik is, bring. “‘n Gierigaard bring ongeluk oor sy huis…” (Spreuke 15:27 NLV).

Dink daaroor: Jy kan jou werk verloor, jou reputasie skade aandoen, verneder word, voor kostes en wettige nagevolge te staan kom wat jou familie moet betaal en in skande opeindig, wat jou kinders negatief sal affekteer. Jou eggenoot verdien ‘n eerlike maat. Jou kinders verdien ‘n eerlike rolmodel.

Die radioverslaggewer Paul Harvey het gesê dat 40 persent van Amerikaners erken dat hulle al by die werk gesteel het en dat 25 persent van hulle geregverdig gevoel het om dit te doen. Hulle het dit as volg gerasionaliseer: ‘Almal doen dit, hoekom dan nie ek nie… Die baas kan dit bekostig, hy sal dit nie mis nie… Dis net klein goedjies, dit sal nie ‘n verskil maak nie… Die maatskappy skuld my en ek neem net terug wat myne is… Ek verdien dit, ek werk hard en het nog nooit erkenning daarvoor gekry nie.’

Wat sê God daaroor? ‘Goddeloses word skynbaar gou ryk, maar dit hou nie…’ (Spreuke 11:18 NLV). Wanneer jy jou werkgewer verkul, sê die Bybel dat jy ‘goddeloos’ is. Van alle mense behoort werkgewers en kliënte in staat te wees om ‘n volgeling van Christus te vertrou om eerlik te wees, hul lone te verdien en kwaliteit diens te lewer.

Sielskos: Rig 7:1-9:33; Mark 7:1-13; Ps 119:105-112; Spr 18:10-12