Seën op jou werk (3)
2022-08-22Romeine 12:10 NLV
Hier is nog ‘n belangrike sleutel om seën in jou werk te ontvang: Bedagsaamheid. Dis van toepassing, of jy nou die president van die maatskappy of die skoonmaker is. Die naamplaatjie op jou deur mag dalk respek afdwing, maar jy moet dit elke dag deur jou werksetiek en jou houding verdien.
In die Ou Testament het die meeste mense ‘n bestaan gemaak deur te boer of vee aan te hou, dus het Salomo die volgende raad aangebied: ‘Jy moet weet hoe dit met jou kleinvee gaan, jy moet omsien na jou veetroppe’ (Spreuke 27:23 NLV). Goeie leiers maak dit hul prioriteit om die behoeftes, sterkpunte, swakpunte, potensiaal en motiveringsvlakke van diegene wat onder hulle werk, te weet. Gevolglik neem werknemers minder siekverlof, die moraal verbeter en kwaliteit en produksie skiet die hoogte in. Glo dit of nie, ‘n salarisverhoging is nie altyd die beste motiveerder nie. Soms is jou bedagsaamheid, begrip en belangstelling in ‘n werknemer ‘n kragtiger motiveerder. Om mense af te kraak of hulle as vanselfsprekend te neem, waarborg net wrokkigheid.
As jy regtig vir mense omgee, probeer jy om die beste in hulle na vore te bring. As jy ‘n werknemer is, belowe God: ‘…Wie omsien na die belange van sy werkgewer, sal voordeel daaruit trek’ (Spreuke 27:18 NLV). As jy aanhou om die mense bo jou te kritiseer, sal die mense rondom jou jou begin wantrou. Hoekom? Omdat hulle weet dat jy op een of ander stadium dieselfde aan hulle gaan doen! Die Bybel sê dat jy veronderstel is om goeie dinge van die mense in gesagposisies bokant jou, te sê (sien Titus 3:1-2). As jy dit nie kan doen nie, sê niks en begin na ‘n ander werk soek. Dis hoe om seën op jou werk te kry.
Sielskos: Rig 4-6; Mark 6:45-56; Ps 119:97-104; Spr 18:9