Seën op jou werk (2)
2022-08-21Spreuke 13:4 NLV
Hier is nog ‘n sleutel om sukses in jou werk te behaal: Harde werk. ‘…Mense wat hard werk, het meer as wat hulle kan begeer.’ Vra enige werkgewer en sy of hy sal vir jou sê dat om goeie werknemers te kry, hulle grootste uitdaging is. ‘…Hulle wat fluks is, word ryk’ (Spreuke 10:4 NLV). Ywer beteken dat jy selfgedissiplineerd, gemotiveerd, waaksaam en betroubaar is en dat jy iets waarmee jy begin het, klaar maak. Dit maak dit kosbaar, omdat ywerige mense moeilik is om te vind (sien Spreuke 12:27).
Die Bybel leer ons dat jou baas verantwoordelik is om jou ‘n regverdige dagloon te betaal en dat dit jou verantwoordelikheid is om vir hulle ‘n regverdige dag se werk te gee. Daar is ‘n verhaal van ‘n man wat vir ‘n werksonderhoud gegaan het en gevra is of hy verantwoordelik is. Hy het geantwoord: ‘Ja, elke keer wat iets by my vorige werk verkeerd gegaan het, het die baas gesê dat ek daarvoor verantwoordelik was!’
Op ‘n ernstiger noot, wil jy voorspoedig wees? Dan moet jy sorg dat jou werkgewer voorspoedig is! Harde werk, nie politiek of manipulasies nie, sal vir jou bevordering sorg. ‘Dié wat pligsgetrou werk, word leiers; lui mense word slawe’ (Spreuke 12:24 NLV).
Lui werknemers kla oor dinge soos onregverdige base, sisteme wat teen hulle tel en dat ander mense die baas se witbroodjies is en dus bo hulle bevorder word. Hierde mense wil die voordele hê wat ander geniet, maar hulle is nie bereid om daarvoor te werk nie. Mense wat hard werk, kry meer as wat hulle begeer: die bevrediging van ‘n werk wat goed gedoen is, ‘n sin van selfwaarde, ‘n reputasie van integriteit, die vertroue van ander mense, werksekuriteit, wins, bevordering en belangrikste van alles, God se ‘Welgedaan.’
Sielskos: Jos 1:7-8; 2 Tim 3:14-17; Ps 119:1-16