Sê nee vir sonde
2022-04-03Romeine 6:14 NLV
As jy rose wil kweek, moet jy oorlog teen onkruid voer; andersins sal hulle jou tuin oorneem. Met ander woorde, jy moet die onkruid uitroei! Daar is ‘n geestelike parallel wat hier getrek kan word: Tensy jy sonde beslissend hanteer, sal dit jou lewe oorneem.
Paulus stel dit so: ‘Ons weet dat ons ou sondige self saam met Christus gekruisig is sodat die sonde se mag oor ons verbreek kan word en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie. Want as iemand sterf, word hy vry van die mag van die sonde. Aangesien ons saam met Christus gesterf het, weet ons dat ons ook deel sal hê aan sy lewe. Ons weet dit omdat Christus uit die dood opgewek is en nooit weer sal sterf nie. Die dood het geen mag meer oor Hom nie. Hy het eens en vir altyd vir die sonde gesterf en nou leef Hy vir God. Julle moet dus ook verseker weet dat julle vir die sonde dood is, en nou vir God lewe deurdat julle één is met Christus. Julle moenie langer toelaat dat sonde julle aardse lewe beheer nie; moenie toegee aan sy verleidelike begeertes nie. Julle is betrokke in ‘n geestelike oorlog. Moenie langer julle liggaamlike vermoëns as wapens van ongeregtigheid vir die sonde beskikbaar stel nie, maar stel julleself voortdurend vir God beskikbaar omdat julle uit die dood weer lewendig geword het. Stel al julle liggaamlike vermoëns as wapens van geregtigheid tot God se beskikking. Die sonde mag hoegenaamd nie oor julle heerskappy voer nie. Julle leef immers nie meer onder die verslawende mag van die wet nie, maar onder die bevrydende mag van die genade’ (verse 6-14 NLV).
Die woord vir jou vandag is dus – sê nee vir sonde!
Sielskos: Josh 2:1-24; Hand 9:20-30