Sê die regte ding
2020-04-18Romeine 10:8 NLV
As jy nie versigtig is nie, is dit maklik om woorde van twyfel te spreek wat dit wat God in sy Woord sê, weerspreek. Paulus skryf: ‘Die boodskap is hier by jou, op jou lippe en in jou hart. Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word’ (verse 8-9 NLV). Spreek dus God se Woord oor jou situasie uit en kyk hoe Hy namens jou aan die werk spring. Jy moet in lyn met God se Woord kom en leer om te sê wat Hy sê, maak nie saak hoe sleg dinge op die oomblik lyk nie. As dit wat jy sê nie is wat God sê nie, is dit teenproduktief. As dit egter is wat God sê, word jou woorde kragtige wapens. Die Bybel sê: ‘Hoe kragtig is opregte woorde…’ (Job 6:25 AFR53). Die woord ‘kragtig’ kom van die Hebreeuse woord ‘marats’, wat beteken ‘om te druk.’ Net soos die koning se seëlring sy seël van outoriteit op ‘n dokument afdruk, seël jou belydenis van geloof die saak voor God. Jesus het gesê: ‘Dit verseker Ek julle, julle kan vir hierdie berg sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie. Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (Markus 11:23-24 NLV). Moenie net met God oor jou berg praat nie, praat met jou berg deur God se Woord te gebruik! Wanneer jy God se Woord jou woord maak, sal jou berg begin beweeg.
Sielskos: Lev 23:26-25:55; Mark 2:1-12; Ps 130; Spr 10:12