‘Sal die ware Jesus asseblief opstaan?’

2023-12-22
Johannes 13:35 NLV

Het jy die plakkaat gesien wat drie mans, wat elkeen ‘n ander weergawe van Jesus voorstel uitbeeld? Die eerste lyk soos ‘n onbeskofte man, die tweede is bruingebrand en atleties, die derde is ‘n klein, sagmoedige karakter. Die byskrif daaronder sê: ‘Sal die ware Jesus asseblief opstaan?’

Die ware Jesus staan in Johannes 13 op. Hy vertel vir ons wat vir Hom die belangrikste is en wat vir ons die belangrikste moet wees – en dit is liefde! In die bovertrek het Jesus besef dat sy tyd min was. Die kruis het gedreig, Judas was op die punt om Hom te verraai en Hy moes sy dissipels voorberei om sonder Hom voort te gaan. Dis soos om ‘n pastoor te vra: ‘As jy net een laaste preek oorgehad het, wat sou jy sê?’ Of soos om vir ‘n onderwyser te vra: ‘Watter een groot waarheid sal jy die graagste vir jou studente wou leer?’ Of om vir ouers te vra: ‘As jy vir jou kinders net een ding kon sê, wat sou dit wees?’

Jesus spel dit uit: ‘Ek gee julle ‘n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê; soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê. As julle liefde teenoor mekaar beoefen, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is’ (verse 34-35 NLV).

Soos ‘n laaste testament, is Jesus se finale boodskap belangrik, nie net vanweë die inhoud daarvan nie, maar vanweë die toon en tydsberekening daarvan. Dit som sy lewe en ons verantwoordelikheid teenoor God en ander mense op – om hulle lief te hê! Aangesien liefde nie is wat jy sê nie, maar wat jy doen – gaan vandag uit en vind praktiese maniere om God se liefde aan diegene wat jy ontmoet uit te druk. Hulle sal goed voel, en jy sal ook.

Sielskos: Miga 5-7; Joh 19:17-30; Ps 47; Spr 31:6-9