Saai saad van vrede waar daar onmin is

2022-02-17
Jakobus 3:16 NLV

Toe ‘n bekende pastoor deur ‘n skeptikus gevra is: ‘Glo jy dat daar ‘n ding soos ‘n regte duiwel is?’ het hy geglimlag en geantwoord: ‘Het jy al ooit ‘n jaarlikse kerkvergadering bygewoon?’ As jy al vir enige lengte van tyd ‘n kerkganger is, weet jy dat onmin sy lelike kop, net soos op enige ander plek, ook in die familie van God uitsteek. Paulus en Barnabas, ‘n briljante bedieningspan, het toegelaat dat hulle verskille oor Johannes Markus hulle uitmekaar dryf totdat hulle nie meer saam kon werk nie. Later het Paulus tot ander insigte gekom, maar die koeël was reeds deur die kerk. Hy het gesê: ‘Ek moedig sowel Euodia as Sintige aan om hulle meningsverskille op te los omdat hulle één is met die Here. En ek vra ook dat jy, getroue kollega, hulle daarmee help. Hulle het hard gewerk… om die Goeie Nuus uit te dra…’ (Filippense 4:2-3 NLV).

Onmin hinder ons gebede, neem ons fokus van verlore siele af en maak ons oneffektief in ons bediening. Ons moet leer om mekaar se talente, perspektiewe en posisies te respekteer, eerder as om afgunstig te wees. Met ander woorde, leer om te verskil sonder om onaangenaam te wees.

Die Bybel sê: ‘want waar jaloesie en selfsugtige ambisie is, dáár sal jy ook wanorde en allerhande gemene dade kry. Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om deernis te bewys, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg. Die vredemakers saai saad van vrede; hulle oes omdat hulle reg lewe voor God’ (Jakobus 3:16-18 NLV). God seën die vredemakers (sien Matteus 5:9), so wanneer onmin sy kop in jou kerk uitsteek, maak dit jou missie om sade van vrede te saai!

Sielskos: Jes 42-44; Luk 10:1-12; Ps 5; Spr 5:1-2